Haweloses op Delmas is dankbaar ten spyte van soms haglike omstandighede

“Dit is maar moelik, maar met water wat ons wel kan kry, neem ons ’n skottelbad, was ons klere en skottelgoed en hou ons die plek skoon.”

Sommige het op die verkeerde pad beland, ander was dwelmverslaafdes en sommige was net deur die maalstrome van die wêreld uitgewerp, maar saam maak hierdie mense ’n plan.

Dit is die voorheen hawelose mense wat tans die ou muurbal gebou op Delmas hul skuiling gemaak het.

Onder leiding van die Pinkster Protestanse Kerk en Eldamah Bediening op Delmas, leef hierdie handjievol mense in die ou vervalle gebou.

Streng reëls rondom die gebruik van dwelms geld egter en die inwoners word glo gereeld vir die gebruik daarvan getoets.

Met Streeknuus se aankoms by dié skuiling op 12 Augustus was dit duidelik dat daar tog ’n goeie én positiewe gees tussen die inwoners heers.


Voorheen haweloses saag hout.

Buite was Michelle Sheehan aan die kook op ’n houtvuur en die reuk van pap, sous en wors het die lug gevul.
Terwyl van die inwoners hout kap het ander om die vuur gesels.

Ook op die perseel was van die plaaslike AfriForum Valke Buurtwag lede, Johan Fabricious en die ma-en-dogter-span van Jolene en Kobie Rheeder.

Volgens Fabricious het hy vir Jolene en Kobie, as deel van die buurtwag eerstehulpspan ontbied om na een van die inwoners, die 76-jarige net bekend as JD, om te sien nadat sy suikervlakke en bloeddruk nie normaal was nie.

JD het glo ’n beroerte gehad en is tans gestremd en aan ’n rolstoel gekluister.

Fabricious sou die volgende dag bystand lewer om vir JD hospital toe te neem om sy voorgeskrewe medikasie te kry.

Sheehan het Streeknuus deur die skuiling geneem – daar was geen teken van lopende water, ’n werkende toilet of stort in die gebou nie. Dié was glo voorheen deur vandale en diewe verwoes en gesteel.


Michelle Sheehan maak kos vir die inwoners van die hawelose skuiling op Delmas.

Op ’n vraag aan Sheehan oor hoe hulle sonder toilet- en stortgeriewe regkom, was haar antwoord: “Dit is maar moelik, maar met water wat ons wel kan kry, neem ons ’n skottelbad, was ons klere en skottelgoed en hou ons die plek skoon.”

Karig, maar netjies opgemaakte enkelbeddens het getuig van die mense wat daar bly en slaap. Volgens inligting bied die inwoners hul dienste vir daaglikse nutswerk en word die geld wat so verdien word, gebruik vir kos en ander noodsaaklike benodighede.

Langs die gebou is daar ooglopend netjies voorbereide beddings, maar dit wag glo vir groente saad of plantjies om sodoende later in hul eie voedsel behoeftes te voorsien.

Fabricious het versoek dat mense wat bereid is om ’n bydrae te maak tot die herstel van die waterpype en wasgeriewe hulle sal nader.

Vir bydraes of as die publiek sou belangstel om van die inwoners se dienste gebruik te maak, kontak die PPK Kerk op Delmas.

“Hierdie mense wil weer ’n verskil in hul lewens maak en ek voel geroep om hulle daarin by te staan,” het Fabricious gesê.

“Elke mens op aarde verdien ’n tweede kans.”


Exit mobile version