Local newsNewsStreeknuus

Die weemoed van ’n waterlose week laat VKLM gemeenskap hande vat

JoJo tenks vul en in die wind wapper kleurvolle wasgoed aan wasgoedlyne - ’n week se wasgoed.

Rand Water se aankondiging dat noodsaaklike herstelwerk aan van dié instansie se infrastruktuur vanaf 26 Julie gedoen sou word, het ’n waterdroogte van 77 ure vir die inwoners van die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit (VKLM) voorspel.

Toe word 77 ure egter 192 ure en ’n volle week later op 2 Augustus kom water weer stadig deur in die krane op Delmas.

JoJo tenks vul en in die wind wapper kleurvolle wasgoed aan wasgoedlyne – ’n week se wasgoed. Teen 19:00 op dieselfde aand was die krane van Delmas-inwoners egter weer droog.

’n Kennisgewing vanaf VKLM dui aan dat die reservoirvlakke van Delmas en Botleng nie op standaard is nie en dat water dus voortaan en tot verdere kennisgewing nie saans tussen 19:00 en soggens 06:00 beskikbaar sal wees nie.

Die tendens om Delmas se water saans toe te draai, vind egter reeds vanaf April 2023 plaas. Streeknuus het by verskeie geleenthede skrywes aan VKLM gerig, maar kon tot op hede nog geen verduideliking vir die rede daarvoor gegee word nie.


LEES OOK: Schools compete in chess circuit playoffs in Trichardt


Die inwoners van Eloff en Sundra en omgewing moes egter veel langer wag vir water om deur hul krane te kom en kon sommige inwoners eers teen 4 Augustus weer ’n warm bad neem.

Die water vanaf die Modderbee-pyplyn het glo eers teen 4 Augustus weer sterk water na die Sundra reservoir laat invloei.

Ook die inwoners van Eloff en Sundra ontvang kennisgewing vanaf die munisipaliteit dat hul watervoorsieningstelsel gestabiliseer het nou weer na die ‘normale pompskedule’ terugkeer en dat inwoners weer van water vooorsien sal word vanaf 05:00 tot 09:00 soggens en smiddae vanaf 16:00 tot en met 20:00.

Hierdie waterlose week het inwoners egter op hul knieë gehad. Skole, soos laerskole Delmas en Sundra asook Hoërskool Delmas moes noodgedwonge sluit, want alhoewel die skole oor boorgate beskik kon kinders nie bad of met skoon klere skool toe kom nie.


LEES OOK: Jong pastoor op Standerton praat oor sy liefde vir bediening


Die waterkrisis het egter ook die begrip en die saamstaan in die VKLM-gemeenskap beklemtoon.

Op sosiale media het boodskappe ingestroom: “Bring net jou eie houers / kanne en kom haal gratis water.”

Skole het hul boorgate beskikbaar gestel. Boere het water na tenks aangery en besighede het gehelp om kanne water te voorsien.

Die gemeenskappe van Victor Khanye het grootliks hul dank uitgespreek aan elke boer, besigheid, skool en individue wat hul boorgate beskikbaar gestel het tydens die waternood.

Teen druktyd was daar egter nou verskeie huishoudings op Sundra en Eloff wat sedert 26 Julie steeds geen water ontvang het nie.

Related Articles

Back to top button