Jong pastoor op Standerton praat oor sy liefde vir bediening

Wihan Byleveldt is ’n passievolle jong man, wat huidiglik teologie studeer. Hy deel sy storie met al die draaie wat hy moes deurmaak.

Willem Johannes Byleveldt, geken deur vriende as Wihan, is ’n passievolle jong man, met ’n diep liefde vir Standerton se jeug.

Byleveldt is in 2002 in Johannesburg gebore, maar het in Sanderton grootgeword.

Hy het in 2020 aan Hoërskool Standerton gematrikuleer. Byleveldt het nog altyd ’n groot liefde vir rugby gehad en wou professioneel rugby speel.

“Toe ek Graad 11 was, het ek reeds vir die eerste span opgedraf,” het Byleveldt gesê.

Hy het vertel van hul eerste span toer op Illanga, waar Sharks Academy verkenners hom genader het vir ’n beurs.

Die geleentheid het nie gerealiseer nie, omdat hy in die volgende jaar eers sou kwalifiseer. Weens Covid-19 was daar geen toer die volgende jaar nie en die geleentheid het hom ontglip.

Dieselfde het gebeur toe Byleveldt aansoek gedoen het by ’n Belgiese kampus om sy IT graad te verkry. Weens Covid-regulasies kon hy nie daarheen reis nie.

“Covid-19 het soveel deure vir my toegemaak,” het Byeveldt erken.

Die mislukte geleenthede het hom verby moedeloos laat voel. Volgens Byleveldt het hy in sy matriekjaar opgegee op skool en het nie regtig omgegee om nuwe planne te maak nie uit vrees dat dit ook sou misluk.

Hy het vir ’n maand na matriek houtwerk saam sy pa gedoen vir’n skrale R150 per dag.

’n Familielid het Byleveldt ingelig oor Replika se internskap program en sy ouers het hom oortuig om die kans te vat.


LEES OOK: Standertonse vrou skenk 175 eenhede bloed


Teen Januarie 2021 het Byleveldt basiese take, insluitend IT en multimedia, by die kerk hanteer.

“My eerste preek was in Maart 2021, en omdat ek redenaars op skool gedoen het, was dit vir my basies net soos om ’n praatjie op te sê,” het hy erken.

Vir die volgende paar maande het Byleveldt aanvanklik net elke dag deur die lewe gedobber tot een aand waar ’n spesiale gasspreker by Replika gepraat het.

“Dit het gevoel asof die man daar was om net met my te praat,” het Byleveldt vertel.

Volgens Byleveldt het hy eers sy ontmoeting met die Here gehad na hy een aand laat moes werk by die jong volwasse bediening wat die kerk aanbied.

Hy was besig om die mense te groet en wou graag net huistoe gaan, maar een man het blatant geweier om te loop.

Hulle het aan die gesels geraak en die man het getuienisse begin deel van al sy jare se ondervinding in die bediening.

“Ek het hom gelglo want ‘n mens kan nie dié soort goed opmaak nie,” het hy gesê.

Die gesprek het gelei na ’n innelike worsteling in Byleveldt. Hy het gevoel hy moet gedoop word, maar het konstant met die Here gestry omrede hy reeds as baba in die NG kerk gedoop was en nie gevoel het dit was nodig nie.

Die besluit was vir hom finaal duidelik gemaak, toe hy Ricus van der Hooven, ’n dominee by die kerk om 23:30 geskakel het.

“Ek was geskok dat hy daardie tyd van die aand die foon geantwoord het,” het hy bely.

Vanaf daardie oomblik het Byleveldt daagliks daaran gewerk om sy verhouding met die Here op te bou.

Hy het selfs gewik en weeg om sy studies te verskuif vanaf rekenaartegnologie na teologie.

In ’n tragiese draai, is sy pa, Willem Johannes Byleveldt, oorlede aan bloedvergiftiging op dieselfde dag wat hy uiteindelik besluit het om eerder sy teologie graad te verkry.

“Ons het baie daaroor gesels voor hy siek geraak het, en hy het altyd gespot dat ek, sy wildste seun, eendag op ’n verhoog gaan staan en mense van die Here vertel,” het Byleveldt met liefde onthou.


LEES OOK: Standerton Buiteklub Monthly Mug spelers durf 18 gaatjies aan


Na bewering moes 2021 die aaklikste jaar van Byleveldt se lewe wees vanweë sy pa se dood, maar hy het erken dat dit eintlik een van die beste jare was, omdat hy sy passie ontdek het.

Byleveldt het vroeg vanjaar die tienerbediening by Replika oorgeneem en dit Metanoia herdoop. Hy sê die tieners is die rede hoekom hy aanhou.

“Ek probeer die mens wees wat ek nodig gehad het toe ek in hulle skoene was,” het Byleveldt verduidelik.

Hy het ’n diep liefde vir die bediening en sal graag eendag sy eie kerk wil stig.

“Die ideaal sal wees as ek ’n kampus vir Replika kan stig,” het Byleveldt afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version