Lanie Nel se oog is op die Green Squad van rolbal

Secunda-inwoner wat vir Standerton speel wotd as Mpumalanga kampioen aangewys.

Wees getrou aan jouself, bly nederig en moet nooit groter as die spel raak nie. Dít is volgens Lanie Nel, die nuwe Mpumalanga mans enkelspel rolbalkampioen, die weg tot rolbalsukses.

Nel is tydens die naweek van 13 en 14 Julie by die manskampioenskap op Barberton as die ope kampioen gekroon.

Hy woon op Secunda maar speel tans onder die vaandel van Standerton Rolbalklub. Die 45-jarige Nel het sowat nege jaar gelede met rolbal te doen gekry.

“Ek het destyds in Mosambiek gewerk, maar het by die marathonklub in Nelspruit aangesluit. Die dag toe ek my klubklere gaan optel het, het ek twee vroue op die rolbalbaan sien speel.

“Die een het my nadergeroep en gesê ek moet net probeer. En daar speel ek een van my beste balle ooit. Ek het ’n ‘bowl’ op die wit bal gerol. Die tannie het my ’n ‘natural’ genoem.”

Dié woorde het hom bygebly en toe hy in Mei 2015 hom sonder werk terug op Secunda bevind, het hy by die Sasol Rolbalklub gaan aansluit en ’n stel tweedehandse balle vir R300 gekoop.

“Ek het nie geweet van verskillede balle, groottes, of kurwes wat ’n mens kry nie. Ek het maar bietjie wenke by een van die ‘greenkeepers’ gekry. Ek het sommer saam hom in sy etenstye begin speel ook en so begin om meer te leer,” het Nel vertel.

Dit was egter nie lank nie toe wen hy die klub se beginner en klubkampioenskap, en verwerf sy provinsiale kleure in 2017.

Nel het sedertdien vele mylpale én hoogtes bereik wat hom op sy pad sit om hopenlik eendag ook aan internasionale kampioenskappe te kan meeding.


Lanie Nel met sy trofee as Mpumalanga kampioen.

Dié mylpale sluit in die 2018 meestersenkelspel wat hy gewen het, die Mpumalanga gemengde pare kampioenskap wat hy en Louise Pretorius verlede jaar gewen het, en die benoeming as kaptein van die een Mpumalanga Mans A-span sedert 2020.

Nel is ook gewoonlik een van die name onder die top spelers op nasionale vlak. Dié meganiese passer by Sasol werk nou vir ’n plek in die Suid-Afrikaanse Meesters Kampioenskap.

Spelers word op hul spelrekord van die laaste drie jaar beoordeel, en deur hul provinsies aanbeveel vir dié gesogde kompetisie.

Dan is daar ook Bowls SA se Green Squad wat uit die room van die land se spelers bestaan.


Wynand du Plooy en Lanie Nel van Standerton Rolbalklub by die Mpumalanga rolbalkampioenskappe vir mans. Du Plooy het derde in die groentjie-afdeling geëindig en Nel het die opekampioenskap gewen.

“Rolbal is nie vir my net ’n sport nie, dit is my passie, bykans ’n leefstyl, en ek wil hierdie Godgegewe talent uitleef,” het Nel gesê.

Dit verg ure se oefen, lang tye weg van die huis af en baie konsentrasie om in dié spel te verbeter. Nel het ook verwys na ’n vier maal voormalige wêreldkampioen, Ian Shuback, wat in sy boek geskryf het dat rolbal ’n deurlopende vakleerlingskap is wat nooit bemeester kan word nie.

Volgens Nel speel jy dié sport 70% af in jou kop en slegs 30% op die veld.

“Dis ’n sielkundige en tegniese ding. As jy goed het wat pla, is jou kop nie in die spel nie en dan gaan jy nie goed vaar nie. Jy moet in jou ‘happy place’ wees,” het hy verduidelik.


Corinda du Plooy het die Mpumalanga vroue kampioenskap se novice-afdeling gewen.

Nel erken dat sy vrou Annelie en sy seuns Lathan (13) en Aidan (10), en ook sy geloof sy plek van vreugde is.

Buiten sy gesin, was Nel se ma, Cathy, sy grootste ondersteuner. Haar dood verlede jaar het hom hard geslaan.

“Ek mis haar ondersteuning en aanmoediging verskriklik.”

Nel glo daarin om talent te koester en om jong spelers te ontwikkel. Hy gee graag raad en leiding aan nuwe spelers.


Lanie Nel hou die bal dop.

“Rolbal is beslis nie ’n vervelige sport nie. Daar is opwinding en ook etiek by die spel betrokke,” het hy verduidelik.

 

Hy is baie trots op hoe ver hy al gekom het in die sport, maar sê hy sal altyd die geloof hê om te glo in hoe ver hy nog kan gaan.

Nel se spanmaats van Standerton Rolbalklub, Wynand en Corinda du Plooy, het ook by die afgelope provinsiale kampioenskappe uitgeblink.

Corinda het die beginnersafdeling vir vroue gewen en Wynand was derde in die mans beginnersafdeling.


Exit mobile version