Local newsNewsStreeknuus

AfriForum buurwaglede van Delmas en Bronkies ontvang gevorderde opleiding

Liam Lewis beskou sy opleiding as waardevol omdat hy dié kennis en vaardighede ook in sy werk as onderwyser, waar skole dikwels sagte teikens van onluste is, kan inspan.

Drie van AfriForum Delmas Valke Buurtwaglede en drie van Bronkhorstpruit Buurtwag het onlangs deel van dié buurtwagte se protospanne geword.

Dit was egter na vyf yskoue winternagte in ’n tent, rantsoenpakkies en streng fiksheidsoefeninge wat van dié ses lede rateltaai protolede gemaak het.

Tydens dié uitdagende kursus het 16 AfriForum buurtwaglede van Bronkhorstspruit, Delmas, Germiston, Boksburg, Mbombela (Nelspruit) en Vanderbijlpark te midde van die Hoëveldse winter vyf nagte in tente deurgebring, op rantsoenpakkies, oftewel ‘ratpacks’ oorleef, hul fiksheid beproef en verskeie opleidingsessies in onder meer selfverdediging en vuurwapenhantering ondergaan.

Volgens AfriForum is hierdie twaalfde protospankursus, waarin gespesialiseerde veiligheidsopleiding aan ’n uitgesoekte groep lede van die organisasie se buurtwagte gebied, op 5 Julie afgehandel en bring dit nou die aantal AfriForum protospanlede op meer as 200 te staan.

Dit alles om die elite van AfriForum se buurtwagte toe te rus vir die beskerming van hul onderskeie gemeenskappe.


LEES OOK: Entity hosts petrochemical, energy roadshow in Secunda


Liam Lewis, ’n 32-jarige onderwyser van AfriForum Bronkhorstspruit Buurtwag, maak deel uit van die 16 buurtwaglede wat pas sy opleiding as protospanlid suksesvol voltooi het.

Lewis meen dié insiggewende kursus onder meer die belangrikheid van spanwerk binne ’n buurtwag benadruk en die ontwikkeling van suksesvolle spanwerk en bewustheid oor beveiliging bewerkstellig.

Hy beskou sy opleiding as waardevol omdat hy dié kennis en vaardighede ook in sy werk as onderwyser, waar skole dikwels sagte teikens van onluste is, kan inspan.

Lizel Viljoen (43), ’n buurtwaglid van AfriForum Vanderbijlpark Buurtwag, wat ook die protospanopleiding ondergaan het, bestempel dié opleiding as ‘taai, maar lekker’.

Sy beveel dit aan vir elke buurtwaglid wat ’n verskil in hul gemeenskap wil maak. Sy benadruk dat veral die selfverdediging- en skietopleidingsessies haar en haar nuwe mede-protospanlede ’n waardevolle voorsprong in hul taak vir die beveiliging van gemeenskappe sal bied.

Protospanne tree, as deel van AfriForum se 177 buurt- en plaaswagstrukture, op as gespesialiseerde reaksiespanne.


LEES OOK: 504 suspects arrested in Tshwane during Operation Shanela


“Hoë gehalte opleiding van hierdie lede is van kritieke belang. Nagenoeg 11 000 vrywilligers is in hierdie stadium reeds landwyd by AfriForum se gemeenskapsveiligheidstrukture betrokke en werk op grondvlak daagliks aktief aan die beveiliging van gemeenskappe,” het Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, gesê.

Volgens Broodryk ondergaan die uitgesoekte buurtwaglede tydens protospankursusse opleiding in verskeie veiligheidsaspekte, insluitend taktiese vuurwapenhantering, hoe om geboue en voertuie tydens ’n misdaadsituasie te benader, praktiese selfvedediging, bloedingbeheer, regsaspekte en onttrekking onder vuur.

“Daarbenewens word die fokus ook geplaas op die opstel van voertuigbeheerpunte, insameling van veiligheidsinligting en doeltreffende radiogebruik.

“Weens die aard van die werk wat hierdie lede verrig, is dit vir ons belangrik dat hulle goed opgelei is. Dit sal verseker dat hierdie lede hul pligte veilig, doeltreffend en binne die raamwerk van die wet tot voordeel van hul gemeenskappe kan uitvoer,” het Broodryk benadruk.

Broodryk het tydens die afsluiting van die afgelope protospanopleiding AfriForum se buurtwaglede bedank vir hul onbaatsugtige opoffering om self verantwoordelikheid vir gemeenskapsveiligheid te neem.

“Ons sien daagliks watter enorme verskil ons buurtwaglede in hul onderskeie gemeenskappe maak in die stryd teen misdaad. Juis daarom sal ons voortgaan om hierdie strukture nog verder uit te brei en nog meer lede op te lei,” het Broodryk afgesluit.

Related Articles

Back to top button