KYK: Asgat-brande maak boer van Standerton moedeloos

Miljoene rande se skade is aangerig deur 'n brand op 3 April en toe weer een op 6 Julie.

André du Plessis het geen tekort aan struikelblokke op die plaas Verblyden nie. Volgens dié jong boer, is hul grootste struikelblok tans die stortingsterein wat aan die plaas grens.

“Mense in beheer van die vullisterrein probeer wel hul bes en ons het ’n goeie verhouding met hulle,” het Du Plessis erken, maar dié boer is nou raadop.

’n Brand het vir die tweede keer dié seisoen, ’n gedeelte van die plaas verwoes. Die eerste brand het op 3 April grootskaalse skade aan die mielielande aangerig en nou, op 6 Julie, is nog sowat 50ha reste en weiding vernietig. ’n Bees het ook in die slag gebly.

Die brande het albei hul oorsprong vanuit die stortingsterein gehad.

Du Plessis bereken die skade wat hy in die eerste brand gely het, op bykans R1.2m. Die tweede keer was verlies bykans net soveel.



Die vuur op 6 Julie het oorheers in ’n kamp waar meer as 200 beeste gereeld wei. Boere in die omgewing en later ook die brandweer het kom help om die vlamme te blus.

“Dit help nie eens meer om voorbrande te maak nie,” het Du Plessis moedeloos bygevoeg.

Du Plessis moet nou nog uitgawes aangaan om voer vir sy vee aan te koop.

“Die enigste opsie wat nou vir my oorbly, is regsaksie, maar ongelukkig het die munisipaliteit ’n oop tjekboek vir hofsake,” het Du Plessis gesê.

Hy is net dankbaar die wild en ander vee op die plaas het die vlamme vrygespring. Du Plessis het vertel dat hy van jonksaf al wou boer. Sy droom is uiteindelik bewaarheid toe hy Verblyden 11 jaar gelede gekoop het.



Vandag is hy egter nie meer so oortuig daarvan dat sy dit so ’n goeie besluit was nie.

Hy het tydens ’n onderhoud erken dat dié probleme wat hy in die gesig staar rakende die stortingsterrein hom moedeloos maak.

“Die beheer oor die sluipslapers op die terrein is karig. Die mense maak vuur om warm te bly, maar net een brandende papiertjie wat deur die wind oor die heining gewaai word, steek my plaas aan die brand,” het Du Plessis verduidelik.

Brandskade is egter nie die enigste skade wat weens die grond se ligging op Verblyden aangerig word nie.

Rommel wat oorwaai vanaf die stortingsterrein is ‘n bedreiging vir vee wat op Verblyden wei.

Vee wei tussen plastieksakke en enige ander vullis wat oor die heining kan waai. Du Plessis het werkers wat daagliks probeer om die rommel te verwyder, maar die spanne kan egter nie heeldag slegs rommel optel nie.



Die boer het sowat R300 000 betaal vir ’n sloot en hoë wal tussen die plaas en die stortingsterrein om te keer dat massas rommel, veral plastieksakke, nie na sy lande oorwaai nie. Beeste is geneig om die plastiek saam met die weiding te vreet en vrek dan.

“Die sloot help baie, maar ongelukkig kan dit nie al die rommel keer nie; en dit help natuurlik glad nie vir die reuk nie,” het hy opgemerk.

Met Standerton Advertiser se besoek aan die plaas het Du Plessis ’n smeulende hoop rommel agter die draad by die stortingsterein uitgewys wat volgens hom nooit ophou brand nie.

Du Plessis het egter in sy onderhoud oplossings vir die probleme gebied.

Hy stel voor dat die mense wat op die asgate rondkrap saans verwyder word en ook verbied word om vuur te maak.

Standerton Advertiser het navrae in ’n epos aan die woordvoerder van die Lekwa Munisipaliteit gestuur, maar nog geen terugvoer ontvang nie.

Exit mobile version