Anelle Lloyd van Bethal gaan na Olimpiese Spele vir hokkie

Suid-Afrikaanse vroue hokkiespan oefen tans in België.

Anelle Lloyd (30), is vir die Suid-Afrikaanse vroue hokkiespan gekies en neem dié week aan die Olimpiese Spele in Frankryk deel.

Sy is die afgelope vyf jaar ’n onderwyser by Hoërskool Hoogenhout en is vanjaar getroud met Llandre Lloyd wat ook ’n onderwyser by dié skool is.

Sy is in Ngodwana, naby Nelspruit gebore en het aan die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark gematrikuleer.

Na skool het Lloyd ’n B.Com graad in ekonomie aan die Noordwes Universiteit op Potchefstroom gaan studeer.
Sy het vir die universiteitspan hokkie gespeel.

Die gogga het haar egter op laerskool al gebyt toe sy saam met ’n maat gaan hokkie speel het.
Sy het eintlik altyd netbal gespeel.


Anelle Lloyd is as doelwagter van die toernooi aangewys tydens een van die oorsese toernooie waaraan sy deelgeneem het.

“Ek was toe altyd in die derde of vierde hokkiespan, maar ek het van hokkie gehou en baie begin oefen,” het Lloyd vertel.

Sy het vir die eerste keer in 2011, toe sy in Graad 11 was, die Suid-Gauteng span gehaal en daarna jaarliks vir dié span gespeel.

Sy het haar debuut op die internasionale hokkieveld in 2014 gemaak toe sy vir Suid-Afrika op die veld gedraf het tydens die Statebond Spele.

Later in dieselfde jaar, is Lloyd ook gekies as deel van die span om Suid-Afrika in Skotland te verteenwoordig.
Sy het aan al die groot toernooie deelgeneem tot in 2016 toe sy besluit het om haar hokkiestok te bêre.

“Dit is moeilik om voltyds hokkie te speel en daar is baie uitdagings; dit is hoekom ek besluit het om vir eers op te hou,” het Lloyd vertel.

Haar voomalige afrigter het haar egter in 2022 genader en gevra of sy nie weer wil begin speel nie. Lloyd het aan die Afrika Spele deelgeneem en so maand terug gehoor sy is deel van die Suid-Afrikaanse vroue hokkiespan wat Olimpiese Spele toe gaan.


Anelle Lloyd speel doelwagter vir die Suid-Afrikaanse vroue hokkiespan wat vanjaae aan die Olimpiese Spele deelneem. Hiér is sy in aksie op die veld.

“Ek was baie opgewond toe ek dit hoor, ek het nie gedink ek sal die span haal nie,” het sy gesê.

Die span oefen tot 15 Julie in België, waarna hulle na Frankryk vertrek om tot vroeg in Augustus daar aan die Olimpiese Spele deel te neem.

Lloyd, wat doelwagter is, het hard geoefen en moes gereeld Middelburg of Pretoria toe ry of Kaap toe vlieg om daar saam met klubs en spanne te oefen.

“Ek het in die aande na werk gaan oefen, of oor naweke as ek af was,” het Lloyd vertel.

As sy nie hokkie speel of voor ’n klas staan en toerisme gee nie, speel sy en haar man graag gholf of hulle gaan stap.

Exit mobile version