Delmas getooi, maar paaie nie voltooi nie

Nog ’n knellende kwessie is die sluiting van Van der Waltstraat in- en uitgang na Delmas wat weens die werk aan die R50 tans gesluit is.

Terwyl die Victor Khanye Munisipaliteit, Delmas First, Delmas Herleef, besighede and ander organsisasies hande vat om van Delmas ’n beter plek vir elkeen te maak, grom sakelui, inwoners en padgebruikers.

Een rede daarvoor is dat herstelwerk aan die R555 / Sarel Cilliersstraat-hoofingang na Delmas steeds nie hervat is nie. Die pad bied ingang na verskeie prominente besighede asook die Hervormde Kerk op Delmas.

Soos berig is Streeknuus (7 Junie) was daar ’n vergadering belê waartydens sakelui, besigheidsbestuurders en dr Martin van Rensburg, predikant van die Hervormde Kerk, hul griewe oor dié pad gelig het.

Die vergadering was ook deur ’n verteenwoordiger van die myn wat vir die kostes van die herbou van die pad pa-staan, Lindemi Ngomane, Neo Rapatsa en die uitvoerende burgemeester van die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit, Vusi Buda, bygewoon.


Die R50 / Van der Waltstraat kruising by Delmas is gesluit weens die opgradering van die R50 en verkeer word deur die dorp herlei.

Werk aan die pad sou, soos ooreengekom en voorgeneem tydens dié vergadering, weer teen 10 Junie hervat word nadat ’n geskil oor die laat lewering en gevolglike nie-betaling van ’n faktuur vanaf die kontrakteur na die myn uitgesorteer is.

Daar was verder tydens dié vergadering onderneem dat 40% van die uitstaande faktuur aan die kontrakteur op 5 Junie oorbetaal sou word.

Werk was egter nie, soos onderneem hervat nie en ’n opvolgvergadering met die myn, die kontrakteur, sakelui en ander belanghebbendes was weer op 25 Junie by die Hervormde Kerk gehou.

Weer eens was ondernemings en beloftes op die tafel geplaas en sou werk aan die pad vervolgens op 12 Julie gefinaliseer wees.


’n Teken is op die R50 aangebring om aan te dui dat die R42-kruising na Delmas gesluit is.

Streeknuus kon egter teen druktud bevestig dat werk op die pad steeds nie hervat is nie en dat daar geen teken van enige padboubedrywighede in sig was nie.

Met Streeknuus se besoek aan die gedeelte van die pad was dit ook opsigtelik dat geen masjienerie en/of padtekens om padwerke aan te dui in sig was nie.

“Ons pad word wel natgemaak om die stof te beheer, maar verder is daar nog glad nie weer aan die pad gewerk nie – die datum van 12 Julie is dus beslis nie haalbaar nie,” het Van Rensburg gesê.

“Ons is onseker oor wie of wat die oponthoud veroorsaak,” het Van Rensburg verder bygevoeg.


Die R50- steenkoolroete ompad.

Nog ’n knellende kwessie is die sluiting van Van der Waltstraat as in- en uitgang na Delmas wat weens die werk aan die R50 tans gesluit is.

“Almal maak reg en verf, maar intussen word al die swaar voertuie deur ons dorp herlei. Ons hoop werklik dat die werk aan die kruising, wat wel baie noodsaaklik is, nie ook weer in die wiele gery sal word deur stakings of nie-betalings van kontrakteurs nie,” het ’n besorgde inwoner Streeknuus meegedeel.

Volgens die burgemeester, het werk aan die R50 reeds gedurende 2019 begin, maar is dit steeds nie klaar nie.

“Dit is ’n provinsiale pad en val dus onder die departement van paaie, het Buda tydens ’n vergadering soos gehou op 21 Junie en bygewoon deur ’n groep verteenwoordigers van besighede en ander instansies op Delmas, gesê.

Streeknuus kon egter intussen bevestig dat werk aan die R50 fluks vorder en groot gedeeltes reeds geteer is.

Buda het ook bevestig dat die werk aan die R50-pad sowel as Sarel Cilliersstraat teen die einde van Julie voltooi behoort te wees. Delmas-inwoners, padverbruikers en besighede hou dus asem op vir die einde Julie.


Exit mobile version