Organisasies gooi saam gewig in om Delmas kleurvol te tooi

Streeknuus het ook verneem dat ’n volgende projek beplan deur Delmas First dié van die opknapping van die winkels in die hoofstraat, Sarel Cilliersstraat, is.

Delmas Dorp van die Jaar in 2023 ondergaan steeds positiewe verandering in samewerking met verskeie organisasies, borge asook die plaaslike Victor Khanye Munisipaliteit.

Delmas Herleef het op 18 Junie die padtekens van Sesdestraat voor Laerskool Delmas opgegradeer .

Onder leiding van Delmas Herleef se Wyk Een leier, Louise Breytenbach, het ’n groep vrywilligers vroegoggend ingespring om die straat veiliger vir leerders en motoriste te maak.

Die spoedhobbels het ’n vars lagie verf gekry om dit meer sigbaar te maak, so ook is die voetoorgang en randstene geverf.


Gossa Holdings se helpers verf randstene in Hospitaalstraat.

Stoptekens is ook op die pad by die vierrigting op die hoek van Sesdestraat enVan Riebeecklaan aangebring.

Volgende aan die beurt was Hospitaalstraat. Dit was haas onbruikbaar vir motoriste en ambulanse en op 20 Junie het Delmas First daar aan die werk gespring.

Onder die vaandel van Delmas First en onder leiding van Henry Mashilela van Gossa Holdings het ook dié straat ’n nuwe baadjie aangetrek.

Vanaf 12:00 het die Gossa-groep ook weer oudergewoonte hul werkers ingespan om die randstene te verf.


Pretty Jiyani glimlag breed, met rooi randsteenverf in die hand.

Die gedeelte van die straat wat onrybaar was, was vroegoggend reeds geskraap en teen sonsak was die pad weer bruikbaar vir motoriste en ambulanse.

Dit was kompleet asof die ‘mooimaak’ van Delmas aansteeklik was, want op dieselfde dag het die munisipaliteit die vierrigting-stop op die hoek van Samuelweg en Van der Waltstraat se padtekens geverf.

Die groot slaggat by die aansluiting van Dunbar- en Sarel Cillierstrate was ook gevul en herstel.

“Dit is belangrik vir die gemeenskap van Delmas om saam te staan en elkeen sy deel te doen om van ons dorp ’n beter een vir elke inwoner te maak,” het Masilela laat hoor.


‘n Stopteken by die kruising van van Riebeecklaan en Sesdestraat op Delmas.

Intussen versorg die werkers van Delmas Herleef steeds die parke en sypaadjies op Delmas en word rommel op ’n daaglikse basis opgetel.

Streeknuus het ook verneem dat ’n volgende projek beplan deur Delmas First dié van die opknapping van die winkels in die hoofstraat, Sarel Cilliersstraat, is.

Die uitvoerende burgemeester van Victor Khanye, Vusi Buda, het tydens ’n vergadering wat op 21 Junie by die Delmas gholfklub gehou was, die opknapping van die hoofstraat ondersteun.

Hier hoop die instansie glo om ’n kleurvolle tema deurlopend te volg en hoop dat elkeen van die gebou-eienaars na die tafel sal kom om dié droom te bewaarheid.


Louise Breytenbach en Elmarie Erasmus.

“Ek ondersteun hierdie insiatief vir die opgradering van ons hoofstraat, want dit is wat besoekers eerste sien wanneer hulle Delmas binnekom,” het Buda gesê.

Hy het verder genoem dat eerste indrukke ook moontlike nuwe beleggers na die dorp kan lok.

Aan die ander kant van die spektrum is besigheidseienaars en motoriste erg onsteld oor die herstelwerk aan die R555 / Sarel Cillierstraat ingang na Delmas waarvan die werk nog nie weer hervat het nie. (Soos berig in Streeknuus, 7 Junie).


Exit mobile version