Local newsLocal sportNewsStreeknuus

Laerskool-onnie van Delmas voltooi haar eerste Comrades en oorkom so haar eie opdraendes

“Maande se voorbereiding en toe breek die dag aan. Jy staar verwonderd na die duisende hardlopers om jou, elkeen daar om die die eindstreep oor te steek - die gees is net onbeskryflik.”

Delmas-inwoner, Lucelle van der Merwe het vanjaar op 9 Junie op 40 haar eerste Comrades Maraton aangedurf.
Van der Merwe het die wedren in 10:46:11voltooi en daarmee haar bronsmedalje huis toe gebring.

Sy het in Januarie by Laerskool Delmas begin skoolgee waar sy Dellies se Graad Vier leerders van wiskunde leer.
Sy is vir die afgelope 12 jaar met Pieter getroud en hulle het twee dogters, nege en sewe jaar oud.

Op ’n vraag of sy altyd sportief was, het van der Merwe geantwoord: “Nee glad nie. Ek het net so bietjie netbal op skool gespeel, maar dit was dit.”

Sy het vertel die drafgogga het haar in 2019 getref het toe sy Klarissa Lishman ontmoet het.

“Ek en Klarissa het saam begin oefen en van tyd tot tyd aan verskeie wedlope deelgeneem. Ek het dit nooit eers oorweeg om aan die Comrades deel te neem nie.

“In 2023 het ek myself ten einde laaste oorreed, maar my inskrywing was te laat.”

Van der Merwe het vertel dit was dalk ’n goeie ding, want sy twyfel of sy werklik gereed daarvoor was. Sy het haar fokus op 2024 se Comrades geplaas en werklik hard begin oefen.

“My oefenprogram het formeel in September 2023 afgeskop. Met die Comrades, my uitsluitlike fokus, het intensiewe draf en gimnasiumsessies op ’n daaglikse basis my lewe geword.

“Sommige dae was moeiliker as ander, maar ek het deurgedruk.”


Lucelle van der Merwe na afloop van die 2024 Comrades Marathon.

Volgens haar was dit ook nie net fisiese voorbereiding nie, maar ook emosionele voorbereiding.

“Jy moet heeltyd gefokus bly en daarmee saam moet jy ook aan die tegniese goed beplan.”

Sy het verder vertel sy het besluit om die Comrades te hardloop omdat sy aan haarself én ander wou bewys dat niks onmoontlik is as jy jou fokus daarop sit nie.

Die feit dat ek die opdraende wedren die eerste aangedurf het, was onbeplan, maar het tog deel gevorm van ’n bewys aan myself dat ek ’n opdraand in my persoonlike lewe kon baasraak.

“’n Bewys van my eie lewe, want sowat twee jaar gelede iets baie erg my oorgekom. Daar was dus al groot opdraendes, maar die Comrades was vir my net ’n bewys dat ek dit kan oorkom; en so kan elkeen. Jy moet net jou kop daarop sit.”

Van der Merwe het vertel die dag van die wedloop was vol van groot emosies.

“Maande se voorbereiding en toe breek die dag aan. Jy staar verwonderd na die duisende hardlopers om jou, elkeen daar om die die eindstreep oor te steek – die gees is net onbeskryflik.

“Ek het met my fokus in die oog, senuweeagtig, maar tog opgewonde weggespring, wetende dat my ondersteuningsbasis in gees saam met my was.

“Sekere dele van die wedloop was bitter erg, dit het gevoel of heelpad opdraende was, maar tou opgooi het nooit by my opgekom nie. Ek het groter uitdagings in my lewe oorkom as hierdie opdraendes, so elke opdraende was simboliek van die groot goed wat ek het in my lewe moes oorkom.


LEES OOK: Sasol Junxion in Standerton donates money to NPO


“Ek wil vir my man en kinders wat my vir die afgelope ses maande aan draf en ‘gym’, moes opoffer, sê dankie.”

Van der Merwe bedank ook haar familie sowel as vir Renier by Optimum Physique gymnasium en die Dellies span wat haar deurentyd aangemoedig het.

“Dankie, aan elke persoon in die gemeenskap, my hartsmense wat agter my was, julle almal het my op maniere gedra wat soveel beteken.

“Dankie, ook aan my kosbare vriendin, Klarissa, wat my sover gekry het om te begin hardloop.

“Ek dank ook die Here vir die moed en krag wat Hy my gegee het. Ek gaan verseker volgende jaar weer terug,” het Van der Merwe afgesluit.

Related Articles

 
Back to top button