Local newsNewsStreeknuus

Delmas Herleef herstel slaggate in Huyserstraat

“Saam sal ons na ’n skoon dorp en die herlewing van ons dorp streef - ’n nuwe trots sodat Delmas altyd ’n opsie vir ons en ons nageslag sal bly.”

Vrywilligers vanuit Delmas Herleef-kringe het op 1 Junie herstelwerk aan paaie gemaak, padtekens geverf en rommel opgetel.

Delmas Herleef het ’n wyle gelede Delmas volgens uitbreidings in verskillende wyke opgedeel met wyksleiers om projekte makliker te bestuur en flinker te laat afloop.

Wyk Twee en Vyf het die groot taak aangepak om die slaggate by die ingang na Huyserstraat vanaf Samuelweg te herstel.

Volgens Wyk Twee en Vyf se leier, Mari Greyvenstein, was die slaggate ’n groot kopseer vir die inwoners van Uitbreiding Twee op die dorp en was daar dus besluit om daarmee as projek af te skop.


Die span van Delmas Herleef op die hoek van Samuelweg en Huyserstraat op Delmas.

’n Groep vrywilligers het om 08:00 bymekaargekom. Die nou al bekende Delmas Herleef padwerke sleepwa, toegerus met die nodige masjinerie was ook weer op sy pos.

Teen omstreeks 12:00 was die slaggate gevul, padmerke geverf en rommel opgetel. Die padwerkespan het na Sesdestraat vertrek waar hulle voortgegaan het om slaggate op te vul.

“Dankie vir almal wat tyd op ’n koue Saterdagoggend afgestaan het om ons dorp stuk vir stuk te verbeter. Saam sal ons na ’n skoon dorp en die herlewing van ons dorp streef – ’n nuwe trots sodat Delmas altyd ’n opsie vir ons en ons nageslag sal bly,” het Delmas Herleef op hul Facebookblad laat hoor.


Doret Maritz en Madel Fourie deel ’n oomblik rondom ’n toegeeteken in Vickerstraat op Delmas.

“Hierdie mense is die ‘Heroes van Delmas’.”

Die span wat Saterdag aan die stuur van sake was, bedank elkeen wat ingeloer het, vriendelik gewaai het en vir iets koel om te drink en iets te ete gesorg het.

“Ons hoop en glo dat ons met ons volgende projek in Uitbreiding Twee en Vyf ’n groter opkoms sal hê – die projekte is tog van belang vir elke inwoner van ons onderskeie uitbreidings en daarop gemik om dit vir elkeen beter en gemakliker te maak.”

Delmas se inwoners word intussen aangemoedig om deel van dié projekte te word.


Related Articles

 
Back to top button