CrimeLocal newsNews

Twee verskyn weer in Evander Landdroshof vir sameswering tot moord

Hof stel saak uit na 14 Junie.

Omega Schoeman en Juanita Venter het op 3 Junie in die Evander Landdroshof verskyn op ’n aanklagte van sameswering tot moord.

Dit spruit uit ’n saak wat al bykans agt jaar voortsleep nadat Schoeman en Venter glo saamgesweer het om Venter se man, Jacques Venter, te vermoor.

Die Venters was op daardie stadium in die proses om te skei.

Schoeman en Venter het glo vir Paul Carr, ’n voormalige kollega van Schoeman wat saam met hom in die polisie was, genader en hom R10 000 aangebied om Jacques te vermoor.

Jacques het egter onraad vermoed toe die honde begin blaf het toe Carr op 7 Oktober 2016 by sy plaas opgedaag het en toegang tot sy huis probeer vekry het.

Jacques het die hulp van ander boere ingeroep en Carr is dieselfde aand in hegternis geneem. Hy het in die hof skuld erken op ’n aanklag van sameswering tot moord en is tot vyf jaar tronkstraf gevonnis wat vir vyf jaar opgeskort is.

Carr moes toe ook as staatsgetuie teen Schoeman en Venter getuig. Venter en Schoeman is eers maande later in hegtenis geneem nadat hulle na George verhuis het en die polisie gesukkel het om hulle op te spoor.

Hulle is op waarskuwing vrygelaat. Jacques Venter is op 28 April in 2018 in ’n hospitaal in Pretoria dood weens vergroeisels aan sy pankreas wat gebars het.

Die egpaar se kinders het destyds by familie gaan bly terwyl die hofsaak steeds voortgeduur het. Schoeman en Venter is in Maart vanjaar in die Evander Landdroshof skuldig bevind op sameswering tot moord. Hul waarskuwing is teruggetrek en hulle is sedertdien in aanhouding.

Tydens hul hofverskyning in Junie, het hul advokate aangevoer dat die uitspraak na die hooggeregshof verwys moet word vir ’n regstelling.

Hulle voer aan dat die wetsartikel waarop die twee skuldig bevind is, ’n minimum vonnis van 15 jaar voorstel, terwyl hulle reken, hulle moet eerder op ’n ander wetsartikel, wat nie ’n voorgeskrewe minimum vonnis het nie, skuldig bevind moet word.

Die twee se advokate het ook gevra dat hulle vrygelaat word op borgtog, maar die aanklaer het gesê dit is steeds ’n ernstige oortreding is en die twee bly steeds in aanhouding.

Die saak is uitgestel na 14 Junie. Die landdros sal dan besluit of hulle vrygelaat kan word op waarskuwing tot die volgende hofverskyning. Na wat verneem word is Paul Carr verlede jaar in ’n motorongeluk dood.


Related Articles

Back to top button