Local newsNews

AfriForum gee praktiese opleiding aan trauma vrywilligers

“Die opleiding rus vrywilligers toe om slagoffers van plaasaanvalle op die toneel emosioneel te ondersteun en bemagtig hulle om in onmiddellike behoeftes te voorsien.”

AfriForum Trauma Eenheid het op 18 Mei 31 trauma vrywilligers van die noordstreek opgelei om slagoffers van plaasaanvalle en geweldsmisdaad op die toneel te help.

Die praktiese opleiding was by AfriForum se hoofkantoor in Centurion aangebied. Magda Coetzee en Izel Kruger, trauma beraders van AfriForum Trauma Eenheid, het die vrywilligers met die nodige kennis en vaardighede toegerus.

Vrywilligers was van verskeie buurt- en plaaswagte soos Alberton, Apiesrivier, Benoni, Brakpan, Brits, Delmas, Germiston, Hartbeespoort, Kemptonpark, Krugersdorp, Midvaal, Roodepoort, Secunda en Vanderbijlpark afkomstig.

Die twee lede van AfriForum se Delmas-tak wat opleiding ontvang het, is Jolene Rheeder vir Delmas, terwyl Annette Snyman as deel van die Delmas-tak Argent plaaswag opleiding ontvang het.


Annette Snyman.

Volgens AfriForum het die toename in hierdie soort misdade die behoefte aan trauma ondersteuning laat toeneem.

“Die opleiding rus vrywilligers toe om die slagoffers van plaasaanvalle op die toneel emosioneel te ondersteun en bemagtig hulle om in onmiddellike behoeftes te voorsien. Realistiese tonele is vir die kursusgangers geskep om hul vaardighede op die toneel op te skerp,” het Coetzee gesê.

“Die vrywilligers het by die praktiese opleiding gebaat en hulle kan nou ondersteuning aan slagoffers in hul gemeenskappe verleen. Hierdie opleiding en vrywilligers is ’n waardevolle toevoeging tot gemeenskapsveiligheid en ons hoop dit kan nog verder uitgebrei word.”

Snyman het haar dank teenoor AfriForum uitgespreek vir die besonderse kursus.

“Die trauma vrywilligerskursus bied my die geleentheid om die wet van Christus uit te voer en om so hopelik die las vir iemand na ’n traumatiese ondervinding ligter te maak.”

Volgens Rheeder bestaan daar ’n groot behoefte aan omgee en ondersteuning vir ’n slagoffer na ’n traumatiese ervaring.

“Ek het die trauma opleiding gedoen omdat ek mense wil help en ondersteun, nie net fisies deur noodhulp nie, maar ook emosioneel.

“Met die opleiding van AfriForum het ek geleer dat ek as ’n trauma vrywilliger met deernis ’n slagoffer van geweld se seer ligter kan maak, leiding gee, ’n pad saam met hul stap en ’n verskil maak sodat daar innerlike genesing mag kom,” het Rheeder gesê.

“Dankie aan AfriForum en Delmas Valke Buurtwag vir die kans om myself te bemagtig om vir ander ’n anker in hartseer en moeilike tye te kan wees,” het Rheeder afgesluit.

AfriForum Trauma Eenheid moedig buurtwagte en takke aan om vrywilligers vir die eenheid te werf om sodoende die eenheid se vermoë om slagoffers tydens plaasaanvalle te ondersteun te versterk.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button