Local newsNewsStreeknuus

Sakelui op Delmas rooi onder die kraag nadat kontrakteurs halt roep met herbou van R555

“Vir twee en ’n half weke was daar hoegenaamd niks aan die pad gedoen nie en die stof is onuithoudbaar.”

Afgevaardigdes en verteenwoordigers het op 3 Junie ’n vergadering by die Hervormde Kerk op Delmas bygewoon om duidelikheid rondom die staking van werk aan die R555 toegangspad tot Delmas te verkry.

Die R555, ’n provinsiale pad, is beter bekend as Sarel Cilliersstraat. Dié pad was reeds vir jare in ’n baie slegte toestand en basies onrybaar vir motoriste.

Dit word verder vertrap deur swaar voertuie wat weens die padwerke op die R50, nou van hierdie ingang gebruikmaak.

Die burgemeester van die Victor Khanye Munisipaliteit, Vusi Buda, ’n verteenwoordiger van die myn wat vir die opgraderingskoste pa-staan, Lindemi Ngomane, en die verteenwoordiger vir die kontrakteur, Neo Rapatsa het die vergadering bygewoon.


Die onvoltooide R555 aansluiting tot Sarel Cilliersstraat op Delmas.

Verteenwoordigers vir besighede was Bennie Labuschagne van die Sasol Vulstasie, Maxi Matthee van die Wimpy, Christo Venter (bestuurder by Afgri), doktor Martin van Rensburg (predikant van die Hervormde Kerk), Kevin Hamlyn en Madel Fourie van Delmas Herleef.

Daar het glo groot opgewondenheid geheers toe werk aan die pad uiteindelik op 17 April begin het.

Dit was egter van korte duur, want soos met die R50, was die werk sowat twee en ’n half weke gelede net summier gestaak.

Die kontrakteurs het glo nie hul betaling vanaf die myn ontvang het nie.


Skade wat deur subkontrakteurs aan die skadunet afdakke by die Wimpy op Delmas aangerig het.

Behalwe dat die ingange na KFC, Afgri, Wimpy, Sasol Vulstasie en die Hervormde Kerk byna heeltemal ontoeganklik vir kliënte en kerkgangers geword het, het die stof ook ondraaglik geword.

Nog ’n klagte tydens die vergadering aangespreek, was die verkeersvloei. Labuschagne het die vergadering geopen deur dit duidelik te maak dat die huidige stand van sake onaavaarbaar is.

“Ons gaan nie beskuldigings heen en weer gooi nie, maar ons wil uitsluitsel hê oor die pad vorentoe.”

Rapatsa het aangevoer dat hulle as die kontrakteurs nie betaling vanaf die myn ontvang nie en die werk dus gestop moes word.


Agter is Christo Venter. In die middel is Kevin Hamlyn, doktor Martin van Rensburg, Bennie Labuschagne, Maxi Matthee, Vusi Buda, en Lindeni Nogomane en voor is Madel Fourie en Neo Rapatsa.

Ngomane het op haar beurt gesê die kontrakteurs het hul faktuur na die 15de van die maand, op 19 Mei, ingehandig, ten spyte daarvan dat dit deel van die kontrakstipulasies was.

Dit blyk egter dat die verteenwoordiger van Mpumalanga se Departement van Paaie, wie verantwoordelik is om die verskillende fases af te teken, dit te laat gedoen het.

Volgens Ngomane het die besturende direkteur van die myn egter onderneem om op 5 Junie 40% van die uitstaande faktuur aan die kontrakteur oor te betaal.

“Ons verloor kliënte en dus verloor ons inkomste. Die ekonomie knyp soos dit is,” was die algemene klagte rondom die tafel.



Volgens Maxi Matthee, in beheer van die Wimpy, het sy begrip en respek rondom die betalingsprobleem, maar besighede verloor intussen inkomste.

“Vir twee en ’n half weke was daar hoegenaamd niks aan die pad gedoen nie en die stof is onuithoudbaar.”

Sy het verder aangevoer dat sy drie addisionele personeel moes aanstel om die kos stoorkamers skoon te maak.
Daar is ook verder skade aangebring aan afdakke agter die perseel.

Die bestuurder van Afgri, Christo Venter, het die vergadering daarop gewys dat sub-kontrakteurs ’n muur op Afgri se perseel omgery het.

“Ons lei nou skade as gevolg van die oop muur. Ons het geen sekuriteit meer nie en infrastruktuur soos kabels word gesteel,” het Venter aangevoer.

Ook die Hervormde Kerk ervaar probleme met toegang tot die kerk, stof en veral verkeersvloei wanneer kerkgangers die perseel probeer verlaat.

Labuschagne het verder genoem ’n werknemer wat by die kerk sowel as die vulstasie werk, het op 31 Mei ’n besering aan diens opgedoen nadat sy glo dié pad wou oorsteek, maar gegly en geval het. Sy is in die hospitaal opgeneem en moes ook ’n operasie ondergaan.

“Ons het almal besef dat ons in die korte duur ’n prys, besigheidgewys, sou moes betaal terwyl die pad herbou word, maar het geglo dit sou die moeite werd wees en ons die vrugte sou pluk, sou die pad binne die geraamde tyd herstel word. Nou hang alles in die lug,” het Labuschagne ook gesê.

Labuschagne het verder genoem dat geen van die belanghebbendes ooit na ’n vergadering genooi was nie.


LEES OOK: K9 Unit saves day after vehicle spiking near Bronkhorstspruit


“Ons was bloot ingelig dat die werk drie tot vier weke sou neem.”

Rapatsa het tydens die vergadering onderneem om die Afgri-muur te herstel, iemand te betaal om die pad nat te lei, die Wimpy afdakke te herstel en met die werk aan die pad voort te gaan, hangende die betaling vanaf die myn.

“Ons grootste vrees is dat hierdie pad sal opeindig soos die R50 waaraan daar nou reeds langer as vier jaar gewerk word. Ons almal wil die versekering hê dat dit nie met die pad hier voor ons kerk en besighede sal gebeur nie,” het Van Rensburg gesê.

Volgens Rapatsa is die daar reeds 65% van die werk aan die pad voltooi.

“Wat oorbly van die werk is egter die duurste gedeelte.”

Die werk sou volgens Rapatsa hervat word sodra betaling van die myn ontvang is en Buda het op sy beurt die onderneming gegee dat die pad op 31 Julie voltooi sal wees.

Die vergadering het in goeie gees tot ’n einde gekom en daar was duidelik hoop en ’n lig aan die einde van dié stowwerige tonnel.

Streeknuus het onderneem om die vordering aan die stukkie pad te monitor en weer daaroor te berig.


Related Articles

 
Back to top button