Local newsNewsStreeknuus

Dellie-leerder per lugambulans vervoer na duikslag op die rugbyveld

Padvervoer sou ’n risiko wees en die besluit was geneem om van ’n helikopter lugambulans gebruik te maak.

Wat net ’n rugbywedstryd tussen twee laerskole moes wees, het binne enkele sekondes in ’n mediese noodgeval verander.

Tydens die wedstryd teen Van Dyk Primary School van Boksburg wat op 23 Mei op die tuisveld van Laerskool Delmas plaasgevind het, het een van Dellies se Graad Sewe leerders, FP Scott, ’n besering na ’n duikslag opgedoen.

FP is deur Dawie Keyzer van Saints EMS, wat op mediese bystand tydens die wedstryde was, langs die veld gestabiliseer.

Volgens Keyzer het dit geblyk dat FC ’n lae rugbesering opgedoen het. Hy kon ook geen pyn voel nie en sy voete het skynbaar nie gevoel gehad nie.

Die aanbeveling was om vir FP per ambulans na ’n hospitaal te vervoer waar toetse op hom uitgevoer kon word.



Padvervoer sou glo egter weens die onstabliliteit van pad ’n risiko wees en die besluit was geneem om van ’n helikopter lugambulans gebruik te maak.

Die wedstryd was gestaak en daar was dadelik begin om die nodige reëlings en veiligheidsmaatreëls vir die landing van die helikopter te tref.

FP het onder die bekwame hande van Netcare 911 se mediese personeel en met behulp van Keyzer verdere behandeling op die toneel ontvang.

Nadat die nodige voorbereidings getref was om hom te vervoer, het die helikopter onder groot belangstelling van die jong spelers en toeskouers vanaf die skool se rugbyveld opgestyg en is FP na ’n hospitaal in Alberton vervoer.

Die jong rugbyspeler is die volgende dag op 25 Mei uit die hospitaal ontslaan.


LEES OOK: Gedeelte van Standerton se begraafplaas in puin


FP se ma, Andrie Scott, het teen druktyd bevestig dat daar volgens die toetse wel ’n lae rugbesering is, maar dat dokters nie seker is of dit moontlik ’n ou besering is wat weens die duikslag weer navore gekom het nie.

FP is weer op 27 Mei terug skool toe en volgens Andrie is sy en pa Frikkie baie dankbaar daaroor.

“Ons wil vir Dawie, die ambulanspersoneel, onderwysers, afrigters en elkeen wat gehelp het, baie dankie sê,” het Andrie Streeknuus meegedeel.

“Dit was eintlik ’n wonderwerk, want die volgende oggend was FP vol glimlagte en piekfyn. Ook vir die wat ons deur gebed bygestaan en gedra het, ’n groot dankie.”

Streeknuus het intussen verneem dat FP reeds weer gereed maak om die krieketseisoen volgende kwartaal aan te pak.


LEES OOK: Gestremde parkering by Delmas Polisie is nou weer sigbaar


Related Articles

 
Back to top button