Local newsNews

’n Truspieël- en windskerm kyk na dienslewering op Delmas

“Kyk vorentoe en raak betrokke. Die geleentheid is nou daar om saam te werk aan ’n beter toekoms vir ons land en vir Delmas.”

“Met die verkiesing van 29 Mei om die draai, word die klem sterk op dienslewering in Delmas gelê, maar so ook dienslewering in Suid-Afrika.”

Dit is die woorde van doktor Martin van Rensburg, predikant van die Hervormde Kerk op Delmas, maar ook as voorsitter Delmas Herleef wat daarop gemik is om van Delmas ’n vriendeliker en skoner dorp vir sy inwoners te maak.

Streeknuus het by hom gaan inloer oor sy siening rondom dienslewering op Delmas.

“’n Motor se truspieël is met rede kleiner as die windskerm. In die truspieël sien ons dit wat verby is, maar in die windskerm sien ons dit wat kom.

“Dit wat ons in die truspieël sien, is nodig vir ons reis vorentoe, maar dit wat ons deur die windskerm sien is belangrik en noodsaaklik, want dit bepaal jou totale reis se verloop,” het Van Rensburg laat hoor.

Hy het gesê wanneer die land se burgers terugkyk na dienslewering in Suid-Afrika is daar baie oor die goeie ou dae te sê.

“Dit is ongelukkig net ’n herinnering in die truspieëls van ons lewe – dit is verby. Dit is deel van die verlede en soos wat die reis voortgaan, word die prentjie wat agter ons lê, al hoe kleiner.”

Volgens Van Rensburg is dit wat daar deur die windskerm voor ’n mens gesien word egter belangrik.

Op ’n vraag oor wat vir Suid-Afrikaners voorlê, was sy antwoord, “Wat sien ons? Daar is ‘n verskil tussen wat ons graag wil sien en dit wat die werklikheid is.

“Die werklikheid is dat dienslewering in Suid-Afrika nie op standaard is nie en dat die gemeenskap betrokke moet raak by die dienslewering op plaaslike vlak. Die betaal van belasting en opmerkings en kommentaar op Facebook, is ongelukkig nie meer voldoende nie.

“Delmas is nie uniek nie; die meeste stadsrade worstel met kapasiteitsprobleme. Die kundigheid en bronne om behoorlike dienste te lewer, is net nie meer daar nie. Wedywering om politieke mag en korrupsie help ook nie om beter dienste te lewer nie.

“Die hartseer is dat die verkiesing van 29 Mei beslis nie ’n vinnige herstel gaan bring nie,” het Van Rensburg bygevoeg.

“Kyk deur die windskerm, kyk vorentoe. Gemeenskape, kerke, skole en huishoudings moet meer betrokke raak om te doen wat gedoen moet word. Elke klein bietjie kan ’n verskil maak. Elkeen se betrokkenheid kan ’n verskil maak.”


LEES OOK: Oorstelpte Whitey Whiteman van Standerton ontvang kunsbeen


Volgens Van Rensburg het elke burger van Suid-Afrika ’n keuse.

“Of ons raak betrokke in Delmas of ons trek na ’n ander dorp toe en gaan kyk hoe ander mense reeds betrokke is terwyl ons daar ook niks doen nie en later net kla oor die verval van dienslewering.

“Oor die lengte en breedte van Suid-Afrika is gemeenskappe besig om ’n verskil te maak. Kyk dus vorentoe en raak betrokke.

“Die geleentheid is nou daar om saam te werk aan ’n beter toekoms vir ons land en vir Delmas. Laat ons hande vat en saam ’n verskil maak,” het Van Rensburg afgesluit.

Related Articles

Back to top button