Diensleweringskwessies binne VKLM maak inwoners rooi onder die kraag

“Dié ‘beurtwater’ lei ook daartoe dat van die inwoners wat in hoogliggende gebiede woon steeds nie daagliks water kry nie en moet daar ten duurste vir hulle water aangery word.”

Die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit (VKLM) het ’n unieke samestelling van dorpe soos Eloff, Sundra en Delmas.

Daar is ook verskeie kleinhoewes in en om dié dorpe soos Rietkol, Modder-Oos Boorde, Droogefontein, maar ook informele woongebeide soos Savannah, Mimosa en strek selfs sover as Waaikraal aan die R42-Bronkhorstspruitpad.

Inwoners van gebiede soos Sundra, Eloff en Rietkol voel dat hulle nie gehoor word nie en daar nie na hulle unieke probleme rondom dienslewering geluister word nie.

Soos verskeie kere vantevore deur Streeknuus berig, word die inwoners van Eloff, Sundra en Rietkol ook reeds vir etlike jare deur ernstige watertekorte geteister.

“Hierdie probleem duur steeds voort. Die verligting van geen beurtkrag die afgelope maand, het ons die standpunt dat beurtkrag net ’n geringe rol speel en gebrekkige watervoorsiening in die Sundra-, Eloff- en Rietkol gebiede, net verder onderstreep,” het Pieter Senekal, raadslid vir die Vryheidsfront Plus (VF+) laat hoor.

“Ons inwoners kry nie meer 24 uur per dag water nie en moet nou met ‘waterbeurtkrag’ tevrede wees. Ek glo die eintlike rede is die is die onverwagse groei van die bevolking in die dorpe oor die afgelope drie dekades.”

“Dié ‘beurtwater’ lei ook daartoe dat van die inwoners wat in hoogliggende gebiede woon steeds nie daagliks water kry nie en moet daar ten duurste vir hulle water aangery word,” het Senekal verder aangevoer.

Volgens Senekal is die gebrek aan behoorlik gekwalifiseerde pompstasie operateurs by die Sundra reservoir verder ook ’n bydraende faktor tot die gebiede se nimmereindigende watertekorte.

“Pompe word nie volgens beheerde en geskeduleerde tye aan- of afgeskakel nie. Ek is wel ingelig dat VKLM die situasie binnekort gaan verbeter.

“Die waterprobleem het nou ook na Delmas uitgebrei en dit bekommer my.”

Monja van Tonder, inwoner van Rietkol, het Streeknuus meegedeel hulle het byna nooit meer water nie.


Eens ’n teerpad, nou ’n grondpad wat na Laerskool Eloff lei.

“Ek en ’n buurman deel ’n watertenk op die kleinhoewe waar ons woon. Dit is smiddae na werk omtrent ’n geskarrel om te kyk wie kan eerste die klein bietjie water in die tenk bekom. Emmers, skottels en bottels word volgemaak. Met dit wat daar is moet jy kosmaak, skottelgoed was en die toilet trek. Stort het nou ’n ‘luxury’ geword,” het Van Tonder gesê.

Sundra inwoner Monica Botha het gesê hulle het darem die afgelope twee maande, binne spertye, toegang tot water.

“Baie van ons inwoners moes egter watertenks en drukpompe installeer, op eie koste natuurlik. Jy leer verder om met die omstandighede saam te leef en daarvolgens jou watergebruik te beplan.”

Botha het verder genoem die paaie in en om Sundra is ook in ‘n haglike toestand.

“Ons kan byna glad nie meer by die begraafplaas op Sundra uitkom nie – daar waar jou geliefdes lê.”

Botha kan nie onthou wanneer laas die VKLM by die begraafplaas gras gesny het nie.

“Dit is ‘n wegkruiplek vir kriminele en veral die kabeldiewe. Die Sundra Bulldogs het darem onlangs ingespring en die gras korter gesny.”

Volgens Botha bestaan die pad na die Kosmos Ouetehuis en die begraafplaas op Sundra wat beide in Tweedelaan geleë, nie meer nie.

“Ek weet nie hoe die mense daar toegang tot hul wonings kry nie. Dit is egter die geval met al ons paaie; dit verval, word nie geskraap of herstel nie.”

n Inwoner in Tweedelaan, Tina Oberholzer, het ook bevestig dat die pad na die begraafplaas nie meer deur normale voertuie gery kan word nie.

Stof weens vragmotors op beide Eloff en Sundra blyk ook ’n probleem te wees. Volgens Senekal het die VF+ ’n vergadering met die plaaslike verkeershoof en ’n lid van die provinsiale department van openbare paaie aangevra rondom die kwessie met vragmotors op die dorp se paaie.

“Hierdie vergadering kon egter nie plaasvind nie, want die verteenwoordiger het nie opgedaag nie.”


Tina Oberholzer wys hier na die swak toestand van Tweedelaan op Sundra.

Kwessies wat volgens Senekal by so ’n vergadering aangespreek moet word is die vragmotors en waar hulle toegelaat mag word om te ry.

“Die Sundra Bulldogs Buurtwag het ook versoek dat daar spoedhobbels in Witbankweg aangebring word of alternatiewelik meer stoptekens aangebring word. Padstrepe moet onder meer ook geverf word en die spoedgrense op die R555 aangepas word.”

Streeknuus het kort voor druktyd ’n mediaverklaring vanaf Rand Water (RW) ontvang waarin die instansie onderneem om VKLM se watertoevoer met ’n verdere 20% in te kort en waarin daar aan die inwoners gevra word om redes te verskaf waarom dié drastiese stap nie geneem moet word nie.

VKLM moes volgens die skrywe van RW die bedrag van R386 947 501.31 teen die einde van Maart aan RW betaal, maar hierdie ooreenkoms is nie nagekom nie. (Lees meer hieroor in die volgende uitgawe.)


Exit mobile version