Standerton Sables pak Krielsaders in tweede ligawedstryd

Dié naelbytstryd was die tweede wedstryd in die burgemeesterliga (mayor league) en is op Hoërskool Standerton se rugbyveld beslis.

Die Krielsaders het Saterdag die Standerton Sables met 34-26 geklop. Dié naelbytstryd was die tweede wedstryd in die burgemeesterliga (mayor league) en is op Hoërskool Standerton se rugbyveld beslis.

Dit was van meet af duidelik dat die Krielsaders die spierkrag na die wedstryd gebring het, terwyl die minder ervare Sables die spoedvrate opgelewer het.

Brouwerk en verspeelde kanse het albei spanne waardevolle punte gekos.

Die Sables moes van heelwat jonger spelers gebruikmaak weens beserings onder verskeie spelers wat verlede jaar vir die liga se wentrofee gesorg het.


Die Krielsaders trek GJ Kotze grond toe.

Die wedstryd het skaars afgeskop toe die Krielsaders se agtsteman, Juan de Jager, die eerste drie in die oorkantste hoekie gaan druk het. Die drie is nie verdoel nie.

In ‘n vinnige ommeswaai het die Sables se slot, GJ Kotze, ‘n drie gedruk wat losskakel, Hendrik Coetzee verdoel het om die puntestand op 7-5 in Standerton se guns te bring.

Mjay Nkosi het vir die mees skouspelagtige drie in die wedstryd gesorg toe dié blitsige binnesenter van Standerton Sables die bal in hul kwartgebied onderskep, en teen die veld afgenael het om met ‘n fabelagtige sprong deur die lug die bal tussen die pale te plant. Geen teenstander kon by dié skraal, rats atleet byhou nie.

Coetzee het die drie verdoel. Die Krielsaders se verbete aanvalle, wat hoofsaaklik in die Sables se halfgebied gebeur het, het gelei tot ‘n drie deur hul losskakel, Werner Coetzee. Hy het die drie verdoel wat die telling 14-12 opgestoot het.


LEES OOK: Bapsfontein vet and K2 partner eighth in marathon series


Die besoekers het kort voor halftyd met ‘n strafdoel geslaag. Met die aanbreek van rustyd was die telling 15-14 in Krielsaders se guns.

Die tweede helfte het harder spel opgelewer soos die Sables weer die voortou wou neem terwyl die Krielsaders hul voorsprong wou vergroot het.

Die Krielsaders se binnesenter, Vuyo Maqubela, het die eerste punte in die twede helfte aan geteken met twee drieë agter mekaar. Een hiervan was nie verdoel nie.

‘n Pak van Krielsaders kon nie vir Reghardt van der Westhuizen, Standerton Sables se vasskop stut plattrek nie en hy het met mag en daad oor die doellyn gestoot om ‘n drie vir die Sables in te palm.


GJ Kotze weier om die bal te los.

Die verdoelskop was egter te kort en was die punte toe 27-19 in die Krielsaders se guns. Die Krielsaders se kookwater agterspelers het regdeur die wedstryd van goeie spanwerk getuig.

Hulle het dit weer bewys met die Krielsaders se laaste drie toe die heelagter Moshe Lentoro vir ‘n drie oorgeduik het. Dié drie is verdoel.

Die Standerton Sables se Thando Selepe, linkervleuel, het vir die laaste drie van die wedstryd gesorg. Die drie is nie verdoel nie.

Die Sables se volgende wedstryd vind eerskomende Saterdag teen Sasol 3 op Secunda plaas. Die Krielsaders draf dan op hul tuisgronde uit teen Ermelo.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version