Delmas Dragons en Sasol Secunda ringbalklubs oorkom saam-saam uitdaging

“Saterdag se wedstryde het bewys dat ons almal een ding in gemeen het; dit is die liefde vir die sport wat ons beoefen.”

Die ringbalspanne van Delmas en Secunda het mekaar op 13 April die stryd aangesê op die bane van Laerskool Delmas.

Die wedstryde wat aanvanklik as ’n ligawedstryd moes plaasvind, het egter sy uitdagings gebring. Sasol Secunda het ’n tekort aan spelers gehad, maar die twee spanne het besluit om die wedstryde te laat voortgaan.

So het die Dragons dan Secunda-spelers ‘geleen’ en het die spanne nie net gemeng tussen mans en vroue gespeel nie, maar sommer ook gemengde spanne vanuit die spelers.

Aan die einde van die wedstryd was die spelers, bestuur en toeskouers dit eens dat die wedstryde op baie goeie sportmangees gedui het.



Volgens Alica Senekal, spanbestuurder van die Dragons, sal die toedeling van ligapunte na afloop van die unieke wedstryde op ’n later stadium bepaal word.

“Ons wil ook net vir Secunda en ons Dragon-spelers dankie sê vir elkeen se bereidwilligheid om ten spyte van die krisis met te min spelers steeds voort te gaan. Dit was harde, maar lekker wedstryde.”

“Saterdag se wedstryde het bewys dat ons almal een ding in gemeen het; dit is die liefde vir die sport wat ons beoefen.”

Van die Sasol Secunda-span se kant af het die dankbetuigings ook ingestroom.

“Ek wil namens ons spanne vir die Dragons dankie sê. Ons waardeer dat hulle ons tegemoet gekom het deur vir ons spelers te leen ten einde die wedstryde te laat voortgaan.



“Hulle kon net die punte gevat het, maar het sonder skroom ingestem om voort te gaan en dit dui op goeie sportmangees. Ons het die wedstryde baie geniet,” het

Corrie Potgieter, beter bekend as oom Brakkies, Streeknuus meegedeel. Die Dragons speel weer tuis op 19 April wanneer hulle teen die spanne van Rage te staan sal kom.

Daar sal drie wedstryde gespeel word en dit skop om 15:00 af. Die Delmas Dragons versoek Delmassers om hulle spanne te kom ondersteun.

“Almal is welkom en daar sal weer iets te ete en koue koeldrank te koop wees.”


Exit mobile version