Mama Julie se begrafnis vandag op Tweeling

Sendeling laat leemte in gemeenskap.

Sendeling en jarelange inwoner van Secunda en Kinross, Julie de la Guerre (69) wat op 6 April dood is, se roudiens het gister (15 April) op Secunda plaasgevind en haar begrafnis vind vandag (16 April) op Tweeling in die Vrystaat plaas.

Julie was sedert 28 Desember, eers in die Mediclinic Highveld en later in die Mediclinic Medforum Hospitaal in Pretoria met dermobstruksie-probleme opgeneem.

Sy het verskeie operasies ondergaan en goed begin herstel, maar moes toe nog twee opearsies ondergaan en is kort daarna dood.

Julie het vir jare ’n sendingstasie op haar plaas tussen Kinross en Trichardt bedryf en het bekend gestaan as Mama Julie omdat sy sowat 25 kinders in pleegsorg gehad het.

Sy het jare terug op Potchefstroom ’n kleuterskool vir behoeftige kinders en ’n pleeghuis begin. Dié kleuterskool staan vandag nog en bied steeds ’n veilige hawe aan kinders in die gemeenskap.

Sy het, later jare, toe sy en haar gesin na Secunda verhuis het, haar barmhartigheidswerk in die gemeenskap voortgesit en lank by die Rondekerk evangelisasie werk onder huishulpe gedoen.

Sy het ook ’n kerk op eMbalenhle begin waar sy elke Sondag gepreek het. Die koningkryk van God was vir haar baie belangrik en sy was altyd bekommerd dat daar baie mense was wat nog nie die evangelie gehoor het nie en oor wat dan van hulle siele sou word.

Sy het in haar leeftyd drie boeke geskryf om mense te waarsku teen die New Age-beweging en okkultiese bewegings.

Een van dié boeke se naam is Elke New Age knie sal buig. Haar dogter, Natalie Bellinger sal haar onthou as ’n sagte, diensbare en doelgerigte mens wat enige musiekinstrument kon bespeel en ook ’n goeie sin vir humor gehad het.

Haar seun, Werner de la Guerre, het gesê sy was ’n maatskaplike werker, onderwyser, ouer, alles in een vir baie kinders.

Haar man van die afgelope jaar en ’n half, Ferdie Pretorius, het gesê hy sal haar onthou as iemand wat ’n absolute passie gehad het vir die evangelie en dat sy onverskrokke was om dit te verkondig.

“Julie het niemand, of geen slegte omstandighede toegelaat om haar te laat terugdeins as dit by die evangelie gekom het nie,” het Pretorius gesê.

“Sy het nooit ’n geleentheid laat verbygaan om die evangelie te verkondig nie.”

Pretorius sal haar onthou as ’n doener, wat nie gewag het vir môre as iets vandag nog gedoen kon word nie.
Julie word oorleef deur haar man, Ferdie Pretorius, vier volwasse kinders, kleinkinders en al haar pleegkinders.

Exit mobile version