Local newsNews

Bejaarde val by Bethal Hospitaal

Vrou leef nou op pynpille en sukkel om te slaap na val.

Twee maande nadat ’n bejaarde, Johanna Coetzee (60) by Bethal Hospitaal geval het, sukkel sy steeds met haar knieë.

Coetzee is op 13 Januarie na die apteek toe by Bethal Hospitaal om haar maandelikse medikasie vir cholesterol en hoë bloeddruk te kry.

Dit het glo dié dag gereën en water het by die apteek ingelek. Volgens Coetzee het niemand die water opgevee of drooggemaak nie en sy het gegly in ’n plas water en geval.

Susters van die hospitaal het haar te hulp gesnel en met ’n rolstoel na die dokter geneem wat X-strale laat neem het.

“Hulle het toe net vir my gesê niks is gebreek nie en my huis toe gestuur met Panado’s,” het Coetzee vertel.

Sy was vir sewe dae bedlêend na die val en sukkel vandag steeds met haar knie.

“Ek leef op pynpille en kan nêrens heen gaan nie, ek kan nie bestuur nie want my regter knie is te seer en ek moet steeds met krukke loop.”

Coetzee het vroeër jare as debiteure-klerk gewerk en ook op ’n stadium haar eie onderneming gehad, maar sedert die Covid-19-pandemie het sy as versorger vir bejaardes gewerk.

“Ek kan sedert my val dit nie meer doen nie, want hoe moet ek ouer mense bystaan en ondersteun as ek nie eers meer myself kan help nie?”


LEES OOK: Evander Court postpones murder case against farmers


Coetzee het nie ’n mediese fonds nie en is verplig om na Bethal Hospitaal te gaan vir haar voorskrifmedikasie.

Sy moes ook self vir haar ’n stut koop om haar regter knie te ondersteun en die pyn te probeer verlig.

Coetzee oorweeg dit nou om ’n eis teen die hospitaal in te stel, maar sy moet elke keer sukkel om ’n saamrygeleentheid te kry omdat sy nie meer self kan bestuur nie.

Die Ridge Times het die Departement van Gesondheid vir kommentaar genader, maar hulle het teen druktyd nog nie gereageer nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button