Local newsNewsStreeknuus

Passievolle kleuterskoolonnie van Delmas het haar oog op Sterstatus

“Die besef dat dat ma-wees nie enige vrou aan bande behoort te lê nie, dat jy alle fasette daarvan in die alledaagse lewe kan bymekaarbring, maar tog ook maar mag en kan groot droom, het by my posgevat.”

Tjar-Lize Klopper (28), onderwyser by Heidi Kleuterskool op Delmas, hoop om die Sterstatus Toekenning vanjaar in die sak te druk.

Sterstatus is ’n werklikheidsprogram, ook bekend as ’n bemagtigingsplatvorm vir vroue met die doel om die skoner geslag te laat groei.

Tjar-Lize, het in Limpopo grootgeword. Sy en haar jonger broer en suster het aanvanklik op Maleoskop net buite Groblersdal saam hul ouers Tjaart en Maralize van der Walt gewoon.

Tjar-Lize se besonderse naam is juis ’n kombinasie van haar ouers se name. Haar ouers het later na ’n plaas net buite Groblersdal verhuis en Tjar-Lize het haar hoërskool loopbaan aan Hoërskool Ben Viljoen op die dorp voltooi.

’n Borrelende Tjar-Lize gesels graag oor haar gelukkige kinderdae en haar deelname aan sport, kultuur waar sy ook hoofleier was, voorsitter van die ATKV, die skoolkoerant en vele meer.

Sy was selfs die top landloopatleet van Limpopo.


Tjar-Lize Klopper het haar oog op Sterstatus.

“Met ’n baie groot kop het ek die pad gevat na die SAs waar ek gou weer teruggekom het grond toe. Dié kampioenskap het my vinnig laat besef om die beste te wees in Limpopo, nie noodwendig die beste in die land beteken nie. My landloop onnie het my hier ’n baie waardevolle lewensles geleer,” het sy vertel.

Tjar-Lize het in 2019 na Delmas verhuis toe sy en haar man, Max Klopper, getroud is. Die egpaar en hul seuntjie Dawid woon tans op ’n plaas net buite Delmas saam met skoonouers, Mike en Hettie Klopper.

“Ek was ’n volle nege maande swanger toe Covid-19 ons tref en president Cyril Ramaphosa die inperking afgekondig het. Klein Dawid is gebore en ek het tot die besef gekom dat daar meer moet wees as om net ma wees.

“Ek het die inperking ongelooflik moeilik gevind. Vasgekeer op die plaas met ’n pasgebore baba, het ek bly wonder oor wat my doel, anders as ma-wees, dan nou eintlik is.

“Die besef dat dat ma-wees nie enige vrou aan bande behoort te lê nie, dat jy alle fasette daarvan in die alledaagse lewe kan bymekaarbring, maar tog ook mag en kan groot droom, het by my posgevat,” het Tjar-Lize vertel.

“Gou het ek geweet om ma te wees beteken nie dat jy moet ophou groei in jouself en jou gemeenskap nie.”

So het Tjar-Lize dan ook haarself in kususse soos lewensdoelgerigtheid-, bewustheid- en visiebord leeringe gekwalifiseer en is sy tans ’n gesertifiseerde afrigter daarin.

“Sterstatus was dus vir my die logiese volgende stap. Hierdeur kan ek vir elke ma, maar spesifiek vir ma’s op kleiner dorpies, wys en die voorbeeld stel dat ma-wees jou nie noodwendig aan bande hoef te lê nie en dat jy in jouself moet glo en sodoende groei.”

Volgens Tjar-Lize het sy ’n week voor Sterstatus se inskrywings vir 2024 gesluit het, met Heidi se skoolhoof, Riëtte Wheller gaan gesels.

“Riëtte was net ondersteunend en haar aanmoediging het my die selfvertroue gegee om die eindtree te neem.”

Tjar-Lize het Streeknuus meegedeel dat Sterstatus hoofsaaklik oor vrouwees gaan, iemand wat ’n liefdadigheidsfunksie kan organiseer, ’n omgee hart het, maar ook iemand wat haarself goed op sosiale media kan verwoord, op die radio kan gesels en uiteindelik as ’n aanbieder op televisie kan werk.

“Jy moet koelkop wees en beslis op jou voete kan dink,” het Tjar-Lize bygevoeg.

Sy het verder genoem daar moet heelparty werkswinkels en uitdagings tydens deelname aan hierdie realiteitsprogram gedoen word.

Een daarvan sal wees ’n gholfdag ten bate van liefdadigheid op 14 Mei. Hiertydens sal die top 12 deelnemers ook aangekondig word.

Die uiteindelike wenner van Sterstatus 2024 sal tydens ’n gala geleentheid in Augustus aangekondig word.

Tjar-Lize het voort gesels oor Delmas as Dorp van die Jaar 2023 en die feit dat sy deur haar deelname aan Sterstus hierdie momentum vir die gemeenskap wil behou.

“Ek is baie opgewonde en positief oor my deelname en wil graag hê dat die hele dorp betrokke moet raak, net soos met die groot opgewondenheid voordat Delmas as Dorp van die Jaar aangewys was.”

Related Articles

Back to top button