Local newsNewsStreeknuus

Die melkbedryf verloor ’n groot gees

“Ek onthou my pa as ’n baie gedissiplineerde produsent wat noukeurige aandag aan detail gegee het. In dié opsig was my ma ’n baie groot hulp in die kantoor. Melkboerdery het in sy bloed gevloei want sý pa was ook ’n melkprodusent.”

Met die afsterwe van Cees Legemaat het daar ’n groot boom in die Rayton-omgewing geval. Oom Cees soos hy alom bekendgestaan het, is op op 17 Februarie op die ouderdom van 90 jaar oorlede.

Volgens oorlewering was hy ’n uitstekende melkprodusent. In so ’n mate dat hy 16 keer as Meestersuiwelprodusent in die Noordstreek van die Melkprodusente-organisasie (MPO) aangewys was. Hy was ook twee keer Nasionale Meestersuiwelprodusent.

Oom Cees het vir baie jare op die direksie van die MPO gedien en was vir baie jare lid van SA Stamboek, die Taurus Veeverbeteringskoöperasie, sowel as die destydse Transvaalse Landbou-Unie (TLU).

Oom Cees en sy vrou, Nellie, en hulle sewe kinders, waarvan vyf seuns en twee dogters, het in 1973 van Nederland na Suid-Afrika geïmmigreer.

Na sowat 18 maande as melkerybestuurder op ’n plaas in die Delmas omgewing het hulle die plaas Kaalfontein by Rayton naby Pretoria gehuur en hulle eie melkery daar staangemaak. Hier het hulle vir 43 jaar gewoon.

Oom Cees het van die begin af hoofsaaklik van kunsmatige inseminasie gebruikgemaak, in ’n tyd toe dié tegnologie nog nie wyd aanvaar is nie. Hy het vir baie lank uitsluitlik van Suid-Afrikaanse bulle gebruik gemaak wat hy deur Taurus verkry het.

Later het hy ook ingevoerde Hollandse semen gebruik, ook deur Taurus verkry, maar hy het sterk in die plaaslike genetika geglo.

Sy seun, Job, het later jare by sy pa se boerdery aangesluit en vir byna 20 jaar vir hom gewerk voor hy sy eie melkery begin het.

Job het sy pa se melkery oorgeneem toe Oom Cees in 2008 afgetree het.

“Ek onthou my pa as ’n baie gedissiplineerde produsent wat noukeurige aandag aan detail gegee het. In dié opsig was my ma ’n baie groot hulp in die kantoor. Melkboerdery het in sy bloed gevloei want sý pa was ook ’n melkprodusent,” het Job gesê.

Oom Cees was ’n melkprodusent in murg en been en Willie Fourie, die laaste voorsitter van die Melkraad, het hierdie stellig beaam.

“Ons het lank saam op die MPO direksie gedien, en Cees kon nooit verstaan waarom daar so ’n swak verhouding tussen die melkprodusente en die verwerkers was nie. Toe ek hom op ’n keer vra waarom hy nie maar die melkery los en iets anders begin nie, het hy baie ferm geantwoord dat as hy nie melk nie, dan is hy niks nie. Hy sal maar ’n melkprodusent bly.

“Cees was ’n eerlike en betroubare mens, en hy het sy deel as voorsitter van die Rayton tak van die MPO met ’n passie hanteer,” het Fourie voorts gesê.

Volgens Suretha Francis van SA Stamboek het Oom Cees sy Holstein/Fries stoet in 1976 by die SA Stamboek en die Holstein-telersgenootskap geregistreer.

“Hy het geglo dat ’n melkery fyn bestuur verg. Elke koei moet individueel gemeet en aangeteken word om wins te verseker.

“Hierdie benadering het daartoe gelei dat sy kudde menigmale die destydse Meester Suiwelprodusent kompetisie gewen het. Oom Cees het ook die destydse Taurus nageslagstoetsprogram ondersteun en daar was gereeld boeredae op sy plaas gehou waar die toetsdogters besigtig is.

“Sy gebruik van toetsbulle het ’n groot bydrae tot die bedryf gelewer. Hy het geglo dat die welslae van sy kudde van streng seleksie afhang”.

“Oom Cees was glo ook baie lief vir sy Hollandse Frieskoeie. Melkaantekeninge het ’n groot rol in sy teelprogram gespeel. Dié hulpmiddel het hom in staat gestel om sy kudde fyn te bestuur. Hy het ’n fyn aanvoeling vir sy melkkoeie gehad en ’n bydrae tot elkeen se lewe gemaak met wie hy in aanraking was.”

Job het gesê as werkgewer was sy pa nie altyd maklik nie.

“Hy was baie puntenerig, maar dit was vir my ’n goeie leerskool wat vir my baie waardevol was in my eie ontwikkeling as melkprodusent. ’n Mens moet ook onthou dat hy ’n gesin van ’n vrou en sewe kinders uit Nederland, waarvoor hy moes sorg, gebring het. Daar was dus nie ruimte vir foute nie,” het Job voorts gesê.

Die Legemaats was verder ook die eerste melkprodusente wat destyds ’n selfaangedrewe voerkar ingevoer het om die voerproses van die koeie te optimaliseer.

“Ek onthou my skoonpa as iemand wat baie van mense gehou het en omgegee het. Hy het altyd probeer help waar hy kon. Hy het graag konferensies bygewoon omdat hy van die sosiale element daarvan gehou het.

Hy het vir jare lank die dorp en boeremark van vars melk, kaas en jogurt voorsien omdat elke kliënt vir hom kosbaar was. Dis is ongelooflik om te dink dat hy en my skoonma 66 en ’n halwe jaar lank getroud was,” het oom Cees se skoondogter, Geraldine, gesê.

Oom Cees word oorleef deur sy vrou Nellie, sewe kinders, 31 kleinkinders en 31 agterkleinkinders.

Related Articles

Back to top button