Local newsLocal sportNewsStreeknuus

Gholfdag vir Talitha bring Delmas-gemeenskap bymekaar

Die organiseerder skat sowat R100 000 is dié dag ingesamel.

’n Groot gholfdag het ten bate van ’n geldinsameling vir die vierjarige kankerlyer van Delmas, Talitha Berg, op 23 Februarie plaasgevind.

Dié gholfdag op Delmas het menige spelers van heinde en verre gelok.

Met sowat 17 vierbal-spanne wat op die dag deelgeneem het, het die baan behoorlik gelewe met spelers van oraloor.

Tanya Prinsloo, NTT Toyota op Delmas se ‘Toyota Knight’, is bekend vir haar liefdadigheidswerk en omgee in Delmas en omgewing.


Die ster van die gholfdag, Talitha Berg, by die Delmas Gholfklub.

Met Prinsloo aan die stuur daarvan en met behulp van verskeie borge, het hierdie gholfdag ten bate van Talitha tot stand gekom en groot sukses opgelewer.

Die dag se spel was met ’n prysuitdeling en veiling afgesluit.

“Die Talitha Berg Gholfdag was een van my grootstes wat ek nog aangebied het,” het Prinsloo gesê.

“Dit sou egter nie moontlik gewees het sonder al die ondersteunende spelers, borge, my werkgewer NTT Toyota, die Delmas Gholfklub en elkeen wat hand bygesit het nie.”.


 Talitha se pa Albert Berg, islaan af.

Volgens Prinsloo was byna die hele Delmas op die een of ander manier by dié dag betrokke.

Talitha ly aan ’n seldsame kanker wat bekend staan as ’n ‘yolk sac-kanker’. Sy was skaars twee jaar oud toe sy met dié rare kanker gediagnoseer is. (Streeknuus, 9 Desember 2023).

Talitha se ouers probeer na die beste van hul vermoë om die pas vol te hou met uiters hoë mediese kostes, medikasie en die heen-en-weer ry vir hospital- en doktersbesoeke.

’n Moedige Talitha, wat die vorige dag uit die hospital ontslaan is na haar laaste chemoterapie-behandeling, was ook by die gholfdag teenwoordig.


Gert de Meyer in aksie.

Die kleinding het die dag skaam, en nog effe naar na haar laaste behandeling, begin. Nadat boeties en sussie egter ná skool by haar aangesluit het, het sy ontpop as die ster van die dag se gebeure.

“Die Berg-gesin wat bestaan uit pa Albert, ma Tanja, ousus Anina, ouboet Pedri, sussie Zanri, boetie Joach en Talitha stry ’n dapper stryd en is ’n toonbeeld van ’n gesin wat in alles bymekaarstaan en mekaar ondersteun,” het ’n goeie vriendin van die gesin Streeknuus vertel.

Volgens Tanja kan Talitha nie wag om weer te begin om haar hare te groei nie.

Haar kankertelling was na die laaste chemo baie laag en haar dokters is tevrede met haar vordering. Die gesin wag nou angstig, maar vol geloof vir die nuutste bloeduitslae.


Talitha, Zanri en Joach Berg geniet die gholfdag ten bate van Talitha.

“Ons gesin wil vir Tanya uit ons harte bedank vir al haar moeite met die reëlings rondom die gholfdag. Baie dankie ook aan al die borge, die spelers en die mense wat die veiling na afloop van die dag se spel ondersteun het,” het Tanja laat hoor.

Sy het verder die gesin se dank teenoor die Delmas Gholfklub, Leandri du Plooy en die span van We Meat Again uitgespreek.

Teen druktyd kon Prinsloo nog nie die bedrag wat ten bate van Talitha ingesamel is, bevestig nie.

“Ek wag nog vir sekere gelde van die veiling om in te kom, maar kan wel bevestig dat dit in die omgewing van R100 000 is.”


Rustyd vir die gholfspelers.

Vrolike spangees by die Delmas Gholfklub.

Related Articles

Back to top button