Local newsNews

André Kallel van Standerton speel oop kaarte oor die toekoms

André het sy eggenoot, Hannelie, op ’n troue ontmoet en sedertdien is die twee onafskeidbaar. Hulle bestuur die meule saam.

Sake- en gesinsman, André Kalell, is gebore en getoë op Standerton en het sedert 2000 sy wortels stewig by hul familiebesigheid ingeplant.

Met ‘n vasbeslote ingesteldheid is hy nie van plan om in die afsienbare toekoms te verhuis nie. Jare gelede was daar twee meulens op Standerton, wat eers aan Jode behoort het.

André se pa, wyle Ronnie Kalell van Middelburg, het die oorblywende meule aangekoop, wat soos die noodlot dit wou hê, op die mark was na die eerste meule wat in sy besit was, afgebrand het sonder versekering.

As tjokkertjie het dié man van Libanese oorsprong, die kasregister geslaan by sy pa, Ronnie se onderneming. Hy het onthou hoe hy Vrydag middae saam met die werkers in die ry gestaan het vir sy lonekoevert vir die week se harde werk.

André se alma mater is Standerton Primary School. Hy het met groot waardering van Charles van Vuuren, huidige hoof van SPS gepraat, wat as sy wiskunde-onderwyser by primary begin het.

Hy het sy hoërskoolloopbaan voortgesit by Potchefstroom Boys High, waar hy as koshuisbrak uitgeblink het in hoogspring en die bynaam ‘Sprinkaan’ verwerf het.

André het ook talle ander sportsoorte beoefen soos muurbal, waarin hy provinsiale kleure gekry het en hy het sy slag op die muurbalbaan vir die destydse Noord-Transvaal gewys.

Na skool het die stad se blink liggies geroep en hy het aan die Pretoria Tegniese Kollege studeer en sy nagraadse BSc studie by die Hanzehogeschool in Groningen, Nederland, voltooi. ’n Jaar na sy studies het hy na Miami, Florida vertrek en op privaatseiljagte as ’n ‘deckhand’ gewerk.

“Ek het silwerware poleer, store skoongemaak, toiletpapier gevou en van alles en nog wat gedoen.”

André het sy eggenoot, Hannelie, op ’n troue ontmoet en sedertdien is die twee onafskeidbaar. Hulle bestuur die meule saam. Hoogtepunte in sy lewe was ongetwyfeld sy huwelik en die geboorte van hul seun, Michael.

Michael is tans in Graad 11 by Hoërskool Standerton en het nog nie besluit watter rigting hy gaan inslaan na skool nie. Die Kalell gesin reis gereeld oorsee.

“Dis heerlik om die vreemde saam te verken en nuwe kulture te beleef,” was André se mening.

Engeland, Skotland, Wallis, Ierland, Italië, Duitsland, Switserland, Maldivië, Hong Kong, Mauritius, Egipte en Frankryk tel onder hulle bestemmings.

“Ons het ook in 2019 die Wêreldbeker in Japan bygewoon. Wat ’n ongelooflike voorreg,” het hy met ’n glimlag onthou.

Hy het nooit geaarsel om sy emmerlys na te volg nie.

“Soos jy ouer word, besef ‘n mens wat werklik belangrik is in die lewe,” het hy met erns gesê.

“Familie en gesondheid speel ’n noodsaaklike rol.

“As dit die Here se wil is gaan ons hegte gesin uiteraard nog baie ons land en die buiteland verken.”

As sakeman staan André nie onverskillig teenoor die uitdagings en probleme wat beurtkrag vir Standerton inhou nie en het gebeurlikheidsplanne, sover moontlik, in plek om produksie by die meule te ondersteun.

Ter afsluiting het hy die boere, gemeenskap en getroue klante vir hul volgehoue en onwrikbare ondersteuning deur al die jare heen bedank.

Related Articles

Back to top button