Oud-Eloffer skryf oor rou

“Ek het baie gou geleer dat geen mens slegte nuus dieselfde ervaar nie. Nie een mens rou dieselfde nie.“

Die onverwagse en hartseer verloop van die lewe het vir André Gildenhuys daartoe genoop om sy boek My seerste seer…’n Genadereis na oorwinning te skryf.

Volgens André het hy geensins beplan om ’n boek te skryf nie, maar tog is sy boek gedurende Desember afgehandel en gedruk.

André en Corlia Gildenhuys se dogter, Jana is op 10 Augustus 2012 in ’n fratsongeluk naby Little Switzerland in die Drakensberge in KwaZulu-Natal oorlede.

“Die pad was pragtig en op daardie stadium was daar natuurlik ook geen slaggat in sig nie,” het André gesê.
Jana was 25 jaar oud toe sy oorlede is.

Volgens André het dit gevoel asof ’n olifant op sy bors trap en asof hy growwe skuurpapier ingesluk het.

“Ek het baie gou geleer dat geen mens slegte nuus dieselfde ervaar nie. Nie een mens rou dieselfde nie.
Nina Smit skryf in haar boek Wanneer ’n vrou treur dat ’n tannie vir haar sou gesê het dat dit voel asof daar ’n gat uit haar hart geruk is wat nooit weer opgevul kan word nie. Wel, ek, wat dat nou ’n man of ’n oom is, voel presies dieselfde,” het André gesê.

Tien maande ná Jana se dood het André voor sy rekenaar gaan sit en sommer net begin tik.

“Jy wat hier lees moes seker al by die oop graf van ’n geliefde gestaan het. Om ’n vriend, kollega, geliefde of familie te verloor, ek bedoel nou deur die dood, is erg en traumaties.

“Om egter ’n kind aan die dood af te staan, is seker die mees traumatiese gebeurtenis in enige ouer se lewe,” was die openingswoorde wat uit André se pen gevloei het.

“Sommer gou was daar duisende woorde.”

So met die skryf saam het André besef dat elke individu se seerste seer verskil.

Na 11 jaar het André die pen neergesit met die hoop en geloof dat sy boek op ’n bedkassie of op ’n koffietafel êrens sou beland om sodoende ook vir ander wat die seerste seer in enige vorm beleef het, troos en hoop te bring.

André het as inspirasie die woorde van Robin Williams, bekend Amerikaanse akteur aangehaal: “I used to think that the worst thing in life was to end up alone. It is not. The worst thing in life is to end up with people who make you feel alone.”


Die voorblad van die boek soos onlangs deur André Gildenhuys voltooi.

André se boek My Seerste Seer…’n Genadereis na oorwinning – nog ’n ouer wat ’n kind begrawe is gedurende Desember deur Coloutech Drukkery aan die R50 tussen Delmas en Bapsfontein gedruk.

André het die boek aan sy vrou, Corlia en hul ander twee kinders, Tariesa en Bertus opgedra. Volgens André is daar nie planne om sy boek op die rakke te plaas nie, maar gaan hy dit self versprei.

Die boek sal vanaf 21 Januarie by die kerkkantoor van die NG Kerk-wes op Delmas beskikbaar wees. Die Gildehuys egpaar het op 28 Desember na die ooste van Pretoria verhuis. (Streeknuus, 11 Januarie).

Dit volg na André se aftrede uit die onderwys in 2019 en volgens hom hoop hy dat hy deur gemeentes oraloor genooi sal word vir motiveringspraatjies.

“Ek sal my seerste seer en jou seerste seer graag met ander wil deel. Ek het nooit gedink dat ek ’n boek sal skryf nie, wat nog te sê so ’n boek. Tog is ek dankbaar dat die Here my op hierdie manier kan gebruik om ander in hul proses van rou en smart te help.

“Die skryf daarvan het my gehelp en ek vertrou dat dit ten minste een iemand sal help in die genadereis na aanvaarding en oorwinning,” het André afgesluit.



LEES OOK: Bethal gholfers laat Delmas op hul neuse kyk

LEES OOK: Vermeende kapers teister bejaarde en dogter op Delmas

Exit mobile version