Standerton Advertiser se Chantelle Swart bly vol moed na ongeluk

Chantelle het grondpad geloop sedert haar huis in Meyerville in 2020 afgebrand het.

Chantelle Swart wat ontvangs by die Standerton Advertiser hanteer, word op 16 Januarie weer in die Sunshine Hospitaal, Benoni opgeneem.

Daar wag ’n reeks operasies op haar; beginnende by haar linkerarm se ‘bone crafting’, penne wat uitgehaal en plate wat ingesit gaan word. Penne in haar linkerbeen gaan met skroewe vervang word.

Haar regtersleutelbeen en die regterbeen het mooi aangegroei en die skroewe en penne gaan by beide uitgehaal word.

Die pyn in haar linkerbeen het algaande vererger, maar Chantelle het onomwonde haar gemoedstoestand beskryf.

“’n Mens kan nie op ’n hopie gaan sit nie.”

Haar oorprobleme bestaan steeds.’n Oudioloog kon nie aan haar voorstel vir ’n tweedehandse gehoorstukkie gehoor gee nie. Dit is as oneties beskryf.

Geld word steeds daarvoor ingesamel en sy is op die waglys by die Standerton Hospitaal. Byna ’n jaar en ses maande na die ongeluk op die Platrandpad, kring die verreikende gevolge uit.

Chantelle se vriend Brian van der Schyff, wat die voertuig bestuur het, is op slag dood, terwyl twee van haar kinders, Zimoné en Zuané, ook passasiers was.

Zimoné, die jongste, het haar rug gebreek en ernstige breinbeserings opgedoen. Chantelle en Zimoné se medikasie beloop R2 500 maandeliks.


Chantelle Swart weet nie hoe lank sy in die hospitaal gaan wees nie.

Wanneer Zimoné haar greep op die werklikheid verloor, word sy in Standerton Hospitaal opgeneem.

Chantelle se operasiedatum is ’n probleem want die skole heropen, en reëlings sal getref moet word om te sorg dat Zuané by Laerskool Kalie de Haas kan inval.

Daarbenewens benodig Zimoné ’n oppasser omdat haar breinbeserings haar skoolloopbaan by hoofstroomskole kortwiek.

“Ek gaan probeer om haar by Hoërskool George Hofmeyr te laat skoolgaan,” het Chantelle gesê.

“Dit is ’n moeilike tyd om al die toutjies bymekaar te hou.”

Zanieka, die oudste, bly by familie op Rustenburg en het goed aangepas. Sy het kom kuier vir haar mense en Bradley, die oudste seun, kon sy trane nie in bedwang hou nie.

“Ek praat daagliks met haar.”

Bradley het die arbeidsmark betree en sy ma het hom die waarde van ’n begroting geleer, wat belangrik is en wat vir eers moet wag.

“Hy is baie gelukkig.”

Met sy veiligheidstewels is hy nou ’n volwaardige lid van die gemeenskap. Chantelle weet nie op hierdie stadium hoe lank sy in die hospitaal gaan wees nie.

“Ek het volle vertroue in my spesialis en fisioterapie sal volstoom weer begin as die operasies verby is.”

Chantelle het grondpad geloop sedert haar huis in Meyerville in 2020 afgebrand het.

“Ek kry volle samewerking van Momentum Versekering en die prokureur van die padongelukfonds.

“’n Mens gee nie moed op nie.”


Exit mobile version