Local newsNews

Delmas se Valke Buurtwag vereer lede tydens vrolike jaarafsluiting

“Ek beskou dit as ’n besonderse prestasie dat die Valke Buurtwag na 13 jaar steeds bestaan en aanhou groei in getalle.”

AfriForum Delmas Valke Buurtwag het op 11 November hul jaar by die Delmas Gholfklub afgesluit.

Tydens die geleentheid het die buurtwag hulle 13de bestaansjaar gevier en terselfdertyd eer aan lede gegee wat uitsonderlike diens in die gemeenskap lewer.

Die voorsitter Carel Botha het aan die lede en eregaste ’n kort oorsig oor die ontstaan van die Valke gegee nadat pastoor Gert van der Mescht die verrigtinge geopen het.

“Gedurende 2013 was huisbrake in die woonbuurtes op Delmas uitsonderlik hoog. Ek en my destydse buurman, Harry Saunders, het besluit om vir ons elkeen ’n tweerigtingradio aan te skaf om sodoende vinnige en effektiewe kontak met mekaar te kon hê,” het Botha vertel.


Carel Botha en die jongste Valke Buurtwag-lid, Ziané Botes, voer ’n ernstige gesprek.

Daarna het ander belangstellendes by die aanvanklike stigtersgroep aangesluit en kort voor lank het die behoefte vir die installering van ’n herhaler vir wyer kommunikasie ontstaan. Borge was verkry en kort voor lank kon lede vanuit die Delmas geledere met mekaar kommunikeer.

“Ek beskou dit as ’n besonderse prestasie dat die Valke Buurtwag na 13 jaar steeds bestaan en aanhou groei in getalle.”

Botha het verder beklemtoon die buurtwag het nou ook ’n reaksiespan, sowel as ’n volledig opgeleide protospan beskikbaar.

Adjudant Offisier Elsjé van der Mescht het ’n algemene oorsig oor misdaad in die Delmas omgewing gelewer waarna Kaptein Carla Hartley, media woordvoerder van die Delmas SAPS aan die woord gekom het.


Carel Botha, Kaptein Salomé van der Westhuysen, Kaptein Carla Hartley en Jaun Herholdt.

“Ek wil namens die Delmas Polisie en die stasiebevelvoerder, Kolonel Sipho Sithole, die Valke Buurtwag, maar veral vir die reaksiegroep bedank vir hulle bystand en dat hul altyd op kort kennisgewing beskikbaar is,” het Hartley gesê.

Daarna was dit tyd vir die toekennings van die aand. Verskeie buurtwaglede was vir voortreflike diens vereer wat gewissel het vanaf getroue radiotoets, patrollies, noodbystand en spesiale projekte.

Die onderskeie koördineerders het ook elkeen ’n toekenning ontvang met uitbreiding een se Marinda van Staden wat as koördineerder van die jaar aangewys is.

Die eerstehulp lede, Odette du Toit, Pieter Botes en Thia Botha het ook erkenning ontvang vir die onbaatsugtige diens wat hulle lewer.


Carel Botha, Kaptein Salomé van der Westhuysen, Kaptein Carla Hartley en Jaun Herholdt.

“Ons eertehulp span woon soms baie traumatiese tonele by en dit het ’n groot sielkundige impak op hulle. Dit is egter ’n noodsaaklike en gewaardeerde diens wat hulle lewer,” het Botha gesê.

Erelidmaatskap is aan Gustav Schult, Barry en Suzette Botes en Chris Kotzé toegeken. Ook die ontslape lid, Cameron McAdam het erelidmaatskap ontvang en die trofee is deur sy seun Gino Sansovini in ontvangs geneem.

Botha self het ’n toekenning ontvang as ere-stigterslid na 13 jaar se onbaatsugtige diens en voorsitter van die Valke.

Spesiale dank was ook teenoor die Eloff Buurtwag, Sundra Bulldogs Buurtwag, Delmas SAPD, Hartley, Kapteins Salomé van der Westhuysen, Adjudant Offisier Elsjé van der Mescht, AAA Sekuriteit, Titen Sekuriteit en Maksimum Sekuriteit uitgespreek.

Die Biermann gesin, Desmond, Helena en hul twee kinders, Grewar en Cecillia het weer eens die toekenning as die ‘Valke Nes van die Jaar’ vir 2023 ontvang.


ALSO CHECK: Elderly in Lekwa are forced to wait two days for pension payout


Ook die protospan lede het eer ontvang vir hul diens. Die veelsydigste Valk vir 2023 was aan die ondervoorsitter en reaksiespan leier, Jaun Herholdt, aangewys.

Gaste het met groot afwagting op die aankondiging van die man- en vroue Valk vir 2023 gewag. Hier het Jolene Rheeder en Gino Sansovini met die trofees weggestap.

Na afloop van die formaliteite het die Valke lede gesmul aan die ete wat deur We Meat Again voorberei was en daarna op die stoep by die gholfklub gesellig verkeer.

‘n Plaaslike kunstenaar Nico Prinsloo het vir die sang en vermaak gesorg.

“Ek bedank elkeen van ons lede vir hul bydrae tot die sukses van ons buurtwag, hoe groot of klein. Elke lid word waardeer,” het Botha afgesluit.




Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

Related Articles

Back to top button