Local newsNews

Blinde man van Evander geniet hengel

Henry Beukes bly positief en leef voluit.

Henry Beukes (65) het 23 jaar gelede sy sig verloor toe hoëdruk water in sy gesig gespuit het tydens ’n mynongeluk.

Hy het as skofbestuurder op die myn gewerk.

Beukes kon na die ongeluk nog ‘n bietjie sien en dokters het aanvanklik gesê hy sou dalk weer sy sig kon terugkry, maar ná 20 operasies aan sy oë het sy sig steeds nie verbeter nie.

Hy het nou twee glasoë in en kan niks meer sien nie. Hy het besluit om steeds positief te bly en hoewel hy in die begin baie geval het as hy buite sy huis die tuin natmaak, lag hy nou daaroor.

“Ek sal eendag in die hemel alles in kleur sien,” het Beukes gesê.

“Ek kon darem sien voordat ek blind geword het. Mense wat blind gebore is, kon nog nooit niks sien nie. Hoe beskryf ’n mens dan vir so iemand hoe ’n renoster, of olifant, of blomme lyk? Ek weet darem hoe dit lyk want ek kon sien.”

Hy het ook sowat drie jaar terug by ’n groep vriende ingeskakel wat weekliks hengel.

“Die eerste keer toe ek saam gaan hengel het, was dit moeilik. Ek het nie mooi geweet wanneer ek die lyn moet los as ek ingooi nie,” het Beukes gesê.

Sy vriende help hom egter om in te gooi en hy het intussentyd ’n alarmpie gekry wat op sy visstok is sodat hy kan hoor wanneer hy ’n byt het.

“My een vriend wat my oplaai sal altyd vir my sê kyk hoe mooi is die sonsopkoms en dan beskryf hy vir my hoe dit lyk.”

Hulle hengel elke week by ’n ander dam in die omgewing, gewoonlik op ’n plaas. Dié groep pensionarisse noem hulself die visvangroep vir Jesus.

“Ons praat baie oor Jesus by die groepie en ons open met gebed en bid vir mekaar as daar behoefte is.”

Hulle het ook ’n vriendskaplike kompetisie en spot gereeld dat hulle in die A-span of die B-span is.

“Ons vroue maak lekker kos vir ons vir die dag en ons vang vis om dit te geniet.”

Die groep vang hoofsaaklik karp en babers.


ALSO READ: Alet Schutte van Standerton kry haar werk met lekkerkry klaar


Beukes se meeste visse wat hy al op een dag gevang het is 26.

Beukes geniet dit om tyd in sy tuin deur te bring en hy het ook groot hokke met voëls soos vinke en klein duiwe.

“Dit is vir my lekker om in die tuin te sit en na hulle te luister.”

Hy help ook sy vrou, Rianna Beukes om perskes, boontjies en ander produkte in te lê of hy luister radio of televisie.

Die egpaar het twee kinders, twee skoonkinders en twee kleinkinders en hy geniet dit ook om tyd met hulle deur te bring.



Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

Related Articles

Back to top button