Local newsNews

Standerton stap vir Bybels

Die baan is oop tussen 14:00 en 18:00 op 27 Oktober.

Die gemeenskap van Standerton hou op 27 Oktober in samewerking met die Bybelgenootskap van Suid-Afrika ’n Stap-vir-Bybels by Laerskool Kalie de Haas.

Die projek poog om geld in te samel om vir bejaardes in die gemeenskap grootdruk- en oudio-Bybels aan te koop.

Lede van die gemeenskap word genooi om as individu of ‘n span in te skryf en saam te kom stap om Laerskool Kalie de Haas se atletiekbaan.

Die baan is oop Vrydagmiddag tussen 14:00 en 18:00. Elke deelnemer ontvang ‘n boekmerk en potlood om rondtes wat gestap word, af te merk.

Daar is ook ‘n spanuitdaging waar ‘n span kan poog om gesamentlik 90 rondtes te stap ter viering van die Bybel in Afrikaans – 90 jaar.

Kosmos Aftree-oord verkoop boereworsrolle, yskoue koeldrank en roomys om honger stappers te verfris.
Inskrywings beloop R100 per volwassene en kinders kan met enige donasie deelneem.

Toeskouers is gratis welkom.

Vir meer inligting, skakel ds. Christo Jooste by 082 371 2184 of Salomé van der Merwe by 082 265 7701.



Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

Related Articles

Back to top button