Local newsNewsStreeknuus

Die Jerigo Opheffingskamp op Eloff trek swaar

Die Jerigo Opheffingskamp, geleë is op ’n kleinhoewe op Eloff, bied tans huisvesting aan sowat 60 hulpbehoewende mense, wat andersins sonder ’n heenkome gelaat is.

Die Jerigo Opheffingskamp, geleë is op ’n kleinhoewe op Eloff, bied tans huisvesting aan sowat 60 hulpbehoewende mense, wat andersins sonder ’n heenkome gelaat is.

Die inwoners sluit in senior burgers wat slegs van hul SASSA toelaag afhanklik is, kinders en ook daardie wat werklik geen inkomste of heenkome het nie. Jerigo is ’n plek waar mense wat deur die lewe platgeslaan is ’n kans kry om op te staan en weer te begin.

Aan die stuur van Jerigo staan Leon en Deidré le Roux. Tydens Streeknuus se besoek aan Jerigo was die twee se passie vir die mense wat in hulle sorg is duidelik, maar daar is tog ook oomblikke van hartseer en moedeloosheid sigbaar en het die dag-tot-dag stryd duidelik vorendag gekom.

“Ons het die bestuur van Jerigo oorgeneem nadat die vorige eienaar en persoonlike vriend, Cobus Cremer oorlede is.”

Volgens die le Roux’s is die doel van die opheffingskamp om vir mense ’n tydelike heenkome te gee.

“Ons doel is om hierdie mense ‘op te hef’ en weer op die been te help, maar ons het ook die uitsonderings. Daar is van ons senior inwoners wat al so lank as nege jaar hier woon.

“Dit is dié sulkes wat deur hul families weggegooi is, vergete vir die samelewing geraak het vir wie Jerigo nou ‘huis’ geword het.”

Die man-en-vrou-span het Streeknuus meegedeel dat elke dag ’n opdraande stryd is en die huidige ekonomiese stand in Suid-Afrika maak dit geensins makliker nie.

Die le Roux’s het verder genoem dat van hul grootste finansiële uitgawes die van elektrisiteit, gas, voedsel en kole vir die koolstoof insluit.

“Van ons inwoners maak wel ’n finansiële bydrae, maar verder is ons totaal van skenkings vanaf die publiek afhanklik.

“Met genade slaag ons steeds daarin om ons inwoners van drie etes per dag te voorsien. Skenkings is daar steeds en daarvoor is ons baie dankbaar, maar dit het baie afgeneem.”


’n Speelparkie vir die kleingoed van Jerigo Opheffingsoord.

Volgens die le Roux’s is hul grootste uitdaging egter die bron van lewe, naamlik water.

“Cobus het destyds ’n boorgat laat sink. Op 226m het hulle water gekry, maar die boorgat lewer tans nie meer ’n druppel water nie.

“Ons is afhanklik van ’n boer vanuit die omgewing om vir ons water te lewer ten einde die inwoners te laat bad, kos te kan maak, drinkwater en ook wasgoed was.

“Dit is nou ploeg- en plant tyd en boere het bloot net nie die tyd of toerusting beskikbaar om dit verder te kan doen nie.”

Volgens Leon is een van hul volgende probleme die van ablusiegeriewe.

“Rossouw Boerdery het etlike jare gelede goedgunstelik vir Jerigo ’n ablusiegerief opgerig. Met goeie beplanning en geduld voldoen dit aan die meeste van ons inwoners se heel basiese behoeftes met een ’n toilet, stort en wasbak elk vir mans en vroue.


Die hartseer van ’n gestremde inwoner wat nie toegang tot die ablusiefasiiteit op Jerigo Opheffingskamp het nie.

“Dit is ongelukkig so dat van ons inwoners aan rolstoele gekluister is en die fasiliteite is nie rolstoel-vriendelik nie.”

Volgens Leon is sommige van dié inwoners van ’n emmer-bad afhanklik. Leon sê die negatiewe publisiteit rondom die verkoop van klereskenkings het ongelukkig ook aan Jerigo afbreuk gemaak.

“Ja, ons ontvang skenkings van klere; ons sorg daaruit vir ons inwoners en het ook’n goed toegeruste klerebank. Dit is egter onmoontlik om die skenkings alles te berg en daarom verkoop ons dan van die oorskot klere.

“Hierdie geld word slegs gebruik om vir ons inwoners van gas vir warm water, kole vir die koolstoof vir kookgeriewe te voorsien.

“Soos met enige ander instansie moet daar ook onderhoud aan die houthuisie gedoen word. Ons beplan om die kombuis groter te maak en ook ons eetsaal, want dit het te klein geword om al ons inwoners te huisves.”

Leon en Deidré het verder genoem dat Jerigo ’n baie streng beleid rondom die misbruik van dwelms en drank het.

“By inname moet vorms ingevul word en die wat aandui dat hulle dwelms gebruik, word getoets en vermaan. Ons wys nie net die mense weg nie, sommige pleit om hulp.


Die biblioteek op Jerigo Opheffingsoord sorg vir leesstof vir die inwoners.

“Na ’n paar dae word hulle egter weer getoets en sou hulle positief toets, sou hulle ter wille van ons ander inwoners dan nie verder gehuisves word nie,” het Deidré gesê.

Jerigo se grootste behoefte op die oomblik is water, verbeterde ablusiefasiliteite en voedsel skenkings.

“Ons groentetuin staan byvoorbeeld bewerk en in geloof het ons geplant, maar sonder water kan ons nie hiervan ’n sukses maak nie.

“Van oppak en deure sluit is daar nie sprake nie en wat doen jy wanneer ’n ma en haar twee kinders, met slegs die klere aan hul lywe, voor jou hek staan? Jy verwelkom hulle in die hoop dat die pa spoedig ’n werkie sal losslaan en die gesinnetjie weer selfstandig sal word.

“Ons hoop bly om mense wat ‘geval’ het op te hef en terug op die pad van selfbeskikking te plaas,” het Leon afgesluit.

Indien daar instansies of lede van die publiek is wat bereid is om Jerigo in hul nood by te staan, skakel Leon op 083 929 0092.

Die Jerigo Opheffingskamp is ’n nie-winsgewende organisasie vir behoeftige mense onder NWO nommer 2023/6766867/08.


ALSO CHECK: Whistleblowers assist police in murder investigation in Wakkerstroom

ALSO CHECK: Heritage celebrated – history behind the Delmas Treason Trial Monument




Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

Related Articles

Back to top button