Delmas makietie is om die draai

Vertonings met Irene-Louise Van Wyk, Danny Smoke, Dirk van der Westhuizen en Snotkop gaan vir ’n laataand jol sorg

As deel van Delmas se onlangse aanwysing as Die Dorp van die Jaar vir 2023, word daar kliphard beplan aan Dié Makietie wat beloof om die dorp vir een dag in ’n een groot feestelikheid te omskep.

Dié Makietie vind op 4 November plaas en die hekke open om 08:00 en hou tot laataand aan.

Die organiseerders vanuit Delmas Herleef geledere het Streeknuus laat weet dat daar vroegoggend ’n pretloop sal wees, kosstalletjies te kies en te keur, uitstallers vanuit alle oorde, bulletjie-rugby, pom-poms, boeresport vir oud en jonk en ’n pretpark om die jongklomp te vermaak.

Die pretloop skop by Hoërskool Delmas se hoofhek af en begin om 07:00. Deelnemers moet reeds om 06:30 aanmeld.

Die immergewilde Kwêla-aanbieder, Hannes van Wyk, bring “sielskos” na die spesiale damestee wat ook gedurende die oggend sal plaasvind.

Makietie-gangers sal verder ook die geleentheid kry om spogreg te verdien deur ’n selfie saam hul gunsteling kykNet sepiester te neem.

Karen Els van Kokkedoor gaan besoekers touwys maak rondom die optowering van die perfekte braaibroodjie.
Irene-Louise van Wyk, Danny Smoke, Dirk van der Westhuizen en Snotkop gaan vir ’n laataand jol sorg.

Met die groot makietie om die draai werk die Delmas Herlewers kliphard agter die skerms om dit vir elke besoeker ekstra spesiaal te maak.

Kaartjies kan by Quicket gekoop word.



Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

Exit mobile version