Local newsLocal sportNews

Henco Coetzee van Secunda blink uit op gholfbaan

Blink toekoms wink vir Hoërskool Secunda gholfspeler.

Henco Coetzee (16), ’n Graad 10 leerder aan Hoërskool Secunda maak skoonskip op die gholfbaan. Hy is onlangs as die beste junior gholfspeler in Mpumalanga aangewys.

Henco het ook vanjaar die klubkampioenskap by Walkerpark Gholfklub gewen en is as die beste junior gholfspeler in die Hoëveld aangewys.

Hy het ook onlangs, eers aan die Suid-Afrikaanse Skole Gholfkampioenskap wat by die Irene Gholfbaan gehou is, deelgeneem en kort daarna aan die SA Bokkie-week vir gholf wat in Pretoria-Wes gehou is.

Sy pa, Koevoet het gesê Henco het homself leer gholf speel sedert hy 11 jaar oud is en hy het net ’n natuurlike gawe vir dit.

“Hy het, toe hy in Laerskool Trichardt was, een dag by die huis gekom en gesê hy wil gaan vir gholfproewe,” het Koevoet vertel.

“Ons het gesê dis reg en later het die gholf meneer, Corné Jansen, ons gebel en gesê Henco het ’n besonderse talent vir gholf.”

Net twee maande nadat Henco begin gholfspeel het, is hy in die skool se gholfspan opgeneem en dié span het vir die eerste keer van Laerskool Trichardt se geskiedenis, die Hoëveld Gholfkampioenskap gewen. Koevoet het self ook gholf gespeel, maar hy het sowat ses jaar gelede opgehou.

“Henco is ’n 16-jarige wat die spel van gholf bemeester het,” het Koevoet gesê.

Sy ouma, Ritha Volschenk, is sy grootste ondersteuner. Die Mpumalanga Gholf Unie het die Coetzees genader om te hoor of Henco vir hulle kan speel en hy speel al vir hulle vandat hy 13 jaar oud is.


LEES OOK: Besigheidsliga op Standerton gaan volstoom voort


Henco oorweeg dit om na skool voltyds ’n professionele gholfspeler te word. As hy nie op die gholfbaan is of speletjies op sy foon speel nie, is hy buite op die plaas waar die gesin woon.

Henco is ook ’n kranige atleet en het op laerskool een keer tot by die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskap vir gewigstoot gevorder en bykans elke jaar aan die Mpumalanga Atletiekkampioenskap deelgeneem.

Dit is vir Henco ’n voorreg om ook deel te kan wees by Walkerpark Gholfklub en Koevoet het dié klub vir hul bydrae en ondersteuning met Henco gholfloopbaan, bedank.

Hy is sedert die begin van vanjaar, ook deel van Walkerpark Gholfklub se ‘Gross League’-span. Sy ouers sien uit na ’n blink toekoms vir hom en glo dat die regte mense hom sal raaksien en ondersteun sodat hy sy gholftalent verder kan uitbrei en beoefen.




Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

Related Articles

Back to top button