Local newsLocal sportNewsSportStreeknuus

Phoenix Rugbyklub van Delmas sluit suksesvolle rugbyseisoen af

Derek Beeslaar is as die speler van die jaar aangewys en het ook die toekennings ontvang vir veelsydigste speler en beste sportman.

Delmas Phoenix rugbyspan het hul seisoen van goeie rugby op gepaste wyse afsluit en spelers, hul gades en eregaste kon behoorlik feesvier. Phoenix se jaareindfunksie het op 25 Augustus by die Danskraal op Sundra plaasgevind.

Phoenix het vanjaar tot in die eindstryd van die Kestrel Liga van die Valke Rugby Unie deurgedring waar hulle teen die span van Heidelberg te staan gekom het.

Phoenix se tweede plek in die liga word as ’n groot sukses beskou. Die aand het afgeskop met bedankings deur Jandré Senekal en Werner Venter.

Op die lys van bedankings was verskeie borge, die vroue wat gesorg het dat die spelers se truie skoon was voor elke wedstryd, die spelers se gades vir hul onbaatsugtige bystand en ondersteuning, Madelein Geduldt vir haar jarelange ondersteuning, Andries Vermaak vir die voorbereiding van die ete, Gesie van der Merwe vir haar ondersteuning en hulp vanuit Valke-geledere en vele meer.


Phoenix se speler van die jaar, Derek Beeslaar, aan die woord.

Van der Merwe, rugbybestuurder van Valke Rugby Unie en haar eggenoot, Corrie, was onder die eregaste vir die aand.

Sy het die Phoenix span geloof vir hulle prestasie en uitstekende vordering na die vele terugslae wat hulle vantevore gehad het. Sy het verder ook die spelers rondom die ontstaan van die destydse Delmas Rugbyklub ingelig.

“Die klub bestaan reeds sedert 1932. Dit is ongelooflik. Ek hoop dat Phoenix besef wat julle het en dat julle dit in jul hande is om op hierdie geskiedenis van 91 jaar te kan voortbou,” het Van der Merwe gesê.

“Hou hierdie ryk geskiedenis aan die bors en sorg sodat julle kinders oor 30 jaar hier kan sit.”


Alicia en Jandré Senekal.

Daarna was dit tyd vir die spelers om beloon te word deur om trofees uit te deel.

Derek Beeslaar is as die speler van die jaar aangewys. Hy het ook die toekennings vir die veelsydigste speler en die beste sportman ontvang.

Die spelers se keuse vir speler van die jaar het aan Christo Marx gegaan. Marx was ook die voorspeler van die jaar.
Agterspeler van die jaar is Chris Janse van Rensburg.

Jaco Els het ’n hele paar toekennings verower. Hy is gekies as die speler wat die beste plettervat gemaak het, die vasbyter van die jaar, die speler wat die meeste punte aangeteken het en ook die ‘nonsens-maker’ van die jaar.


LEES OOK: Women show off their shooting skills in Bronkhorstspruit


Die ‘nonsens-prater’ trofee het aan Francois Snyman gegaan.

Drikus Janse van Rensburg het die beste bywoningstrofee ontvang en is ook as die lojaalste speler aangewys.
Die administratiewe beker het na Ruanda Venter gegaan.

Johan Nel het die beste vordering gedurende die seisoen getoon. Die presidentsbeker was vanjaar aan Jandré Senekal en Werner Venter toegeken.

Die beste junior voorspeler is Kryno Roux en Francois Blignaut is as die beste junior agterspeler sowel as die beste junior speler gekroon.


Afrigter Werner Venter en sy gade Ruanda Venter.

Die ‘bumpie’ vir die seisoen is as Sebastiaan Gort aangewys. Vir die Phoenix span was daar ook hartseer met die aankondiging dat Werner Venter as afrigter uittree.

Senekal het hom bedank vir sy hulp en bystand.

“Dit was ’n groot eer om saam met jou te werk. Jy weet deur watter moeilike tye ons gegaan het vandat die klub afgebrand het tot waar ons nou staan. Ek sou dit nooit sonder jou kon gedoen het nie. Jy is soos ’n broer vir my; jy was altyd daar as ondersteuning en jy het baie vir die klub gedoen en beteken.

“Hoewel dit nou tyd geword het om die tokse op te hang, moet jy weet dat jy altyd waardeer sal word,” het Senekal aan Venter gesê.

Die aand is met ’n ete en samesyn afgesluit, met Suid-Afrika se wen teen Nieu-Seeland in die agtergrond op die groot skerm.




Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

Related Articles

Back to top button