Kinders geniet Jeugfees op Cullinan

Die doel was om die jeug ’n dag te gee waar daar nie aan die verlede se seer en negatiwieteit vasgehou word nie, maar iets positief rondom Jeugdag gebou is.

Lewende Woord Cullinan het op Jeugdag ’n fees gehou. Michelle van Tonder, organiseerder van die jeugfees, het in samewerking met die gemeente die dag gereël.

Hulle doel was om die jeug ’n dag te gee waar daar nie aan die verlede se seer en negatiwieteit vasgehou word nie, maar iets positief rondom Jeugdag gebou is.

Die jeug van die gemeente het 90% van die stalletjies self beman wat hulle ook ’n sin vir entrepreneurskap gebied het.

Die geld wat hulle ingesamel het, gaan gebruik word om ’n jeugsentrum vir die gemeente te bou.

“Die jeug is immers ons toekoms en hulle verdien om ’n heenkome te hê waar hulle op hulle gemak die Here se Naam groot kan maak,” het Van Tonder gesê.


LEES OOK: Disabled association talks to elderly about eMbalenhle Clinic’s possible closure


Die dag is afgerond met gaskunstenaar Willie Pretorius van Willie en die Wenspan. Jonk en oud het saam gesing en gedans.

“Graag wil ons baie dankie sê vir elke kind en ouer wat deelgeneem het om hierdie dag suksesvol te maak en te help om die doelwitte wat die jeug gestel het te bereik,” het Van Tonder gesê.

“Ek is trots op die jeug wat daagliks uitdagings met ’n nuwe uitkyk aanpak,” het wyksraadlid Johannes Bekker gesê.

“Net so is hulle bereid om te leer en ook daarvolgens op te tree om hul doelwitte te bereik. Die jeug is besig om maatskaplike hervorming en verbetering in die samelewing te bring. Ons kan nie sonder die jeug vandag klaarkom nie,” het Bekker afgesluit.



Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

Exit mobile version