Delmas Phoenix byt in die stof teen Oosrand Polisie

“Dit is nou dringend terug na die tekenbord, ons tegniek aanpas en die nodige veranderinge aanbring.”

In ’n harde wedstryd tussen Delmas se Phoenix-rugbyspan en die span van Oosrand Polisie het Phoenix met sewe punte teenoor die 33 punte van Oosrand verloor.

Dié verloor het die Phoenix-span derde op die ranglys in die Valke-liga geplaas. Die wedstryd het op 13 Mei op Phoenix se tuisveld op Sundra plaasgevind.

Die span moes sonder vier van hul eerstespanspelers op die veld draf, maar volgens Phoenix se afrigter, Jandré Senekal word dit nie as verskoning vir die verloor gebruik nie.

“Dit was bloot net nie ’n goeie wedstryd vir Phoenix nie. Dit was maar ’n bitter pil om te sluk en verskonings het ons nie.


Phoenix-spelers in aksie.

“Dit is nou dringend terug na die tekenbord, ons tegniek aanpas en die nodige veranderinge aanbring,” het Senekal na afloop van die wedstryd gesê.

“Daar is beslis werk om te doen, maar ons gaan nie lê nie en in die tweede rondte gaan ons gaan terugkom met ’n ‘bang’, ons skuld dit aan ons ondersteuners en aan onsself.”

In die laaste wedstryd van die eerste rondte van die Valke liga kom Phoenix op 20 Mei teen die span van Tsakane in Springs te staan.

Die tweede ronde behoort teen die einde van Mei af te skop.




Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version