News

Man boet met sy lewe tydens kabeldiefstal op Delmas

Die man het halflyf in die substasie geleun en die volgende oomblik was daar net ’n harde slag en toe brand die man voor my oë.”

’n Vermeende kabeldief se lewe het binne sekondes tot ’n einde gekom toe hy vermoedelik gepoog het om kabels te steel.

Dié voorval het op 9 Mei omstreeks 14:15 plaasgevind en het Delmas vir etlike ure sonder elektrisiteit gelaat.

Die man wat ’n lewe verdien het deur blikkies en bottels vir herwinning in te samel, het saam met twee vriende in Flamboyantstraat op Delmas gestap.

Hy het skynbaar die kans gesien om vanuit ’n transformator sonder enige deure of slotte kabels te buit, maar 11Kw elektrisiteit het deur sy liggaam geruk en hy is doodgeskok. Sy liggaam het aan die brand geraak.

Met Streeknuus se aankoms op die toneel het die liggaam van die man, halflyf binne die transformator, nog gesmeul.


Die transformator sonder deure of slotte in Flamboyantstraat, kort nadat die liggaam van ’n man verwyder is.

Noodpersoneel was vinnig op die toneel en die gebied beveilig sodat die nooddienste met hul take kon voortgaan.

Volgens ’n ooggetuie, John Tswala, het hy in Flamboyantstraat gestap toe die grusame toneel voor hom afgespeel het.

“Hulle was drie ‘pickers’. Die man het halflyf in die substasie geleun en die volgende oomblik was daar net ’n harde slag en toe brand die man voor my oë,” het Tswala aan Streeknuus meegedeel.

Volgens Tswala het hy onmiddellik die polisie ontbied.

Die oorledene se twee vriende het van die toneel weggehardloop, maar later weer vlugtig ’n draai gemaak, net om die verbrande liggaam van hul vriend te vind.


Municipality in Standerton converts electricity meters


Werkers van nabye besighede het na buite gekom toe hulle die slag gehoor het, ook net om die grusame toneel te aanskou.

“Dit is nie die eerste keer dat dit gebeur nie. Sowat twee jaar gelede het iemand anders ook probeer om kabels uit dié elektriese kas te steel. Slegs sy bolyf het aan die gebrand geslaan, maar ook hy is die volgende dag dood,” het een persoon Streeknuus meegedeel.

Streeknuus het aan ’n elektrisiën van die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit (VKLM) gevra waarom die kaste sonder deure en enige slotte is.

“Die deure word vervang, maar so vinnig as wat dit vervang word, word dit weer gesteel en aan skrootmetaalhandelaars verkoop,” was sy reaksie.


Die toneel in Flamboyantstraat waar ’n man dood is nadat hy vermoedelik elektriese kabels wou buit.

Nadat ’n lid van die polisie se forensiese afdeling sy taak uitgevoer het, is die gedeeltelik-verkoolde liggaam van die man verwyder.

Op die toneel was ook ’n paar lede van ’n gesin wat deur omstanders gehaal is omdat daar geglo was dat die liggaam moontlik dié van ’n familielid kon wees.

Weens die toestand van die liggaam kon die oorledene egter nie uitgeken word nie.

Binne enkele minute kon daar egter bevestig word dat die liggaam nie dié van die man se broer is nie, want die betrokke familielid was wel lewend in die omgewing van Botleng gesien.

“Lede van die publiek wat hulself skuldig maak aan diefstal van elektriese kabels en ander noodsaaklike infrastruktuur, kan in terme die oortreding van Artikel 3(1)(a) Wet 18/2018 van 2015, vir die peuter met en beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur, gevonnis word. Die wet maak ook voorsiening vir swaarder vonnisse en strenger voorwaardes.

“In dié tragiese geval, het dit egter die lewe van ’n man gekos,” het Kaptein Carla Hartley, woordvoerder van die Delmas polisie, gesê.

Teen druktyd kon die oorledene se identiteit nog nie bevestig word nie.




Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button