Local newsNews

Prokureur groet Secunda

Delia Coetzee woon en werk deesdae in Kleinmond.

Die prokureur, Delia Coetzee het na 38 jaar besluit om Secunda vir Kleinmond in die Wes-Kaap te verruil.

Sy het eintlik al sedert net voordat die Covid-19 pandemie in 2020 uitgebreek het, tussen Kleinmond en Secunda gependel.

“Ek dink met Covid het mense meer bereidwillig geraak om konsultasies aanlyn toe doen,” het Coetzee gesê.

Haar voltydse werk as prokureur was ook al die jare haar stokperdjie en iets wat sy baie geniet het. Sy het van kriminele sake tot siviele sake hanteer en litigasiewerk gedoen.

Sy het baie gekonsentreer op familiesake en het dit geniet om mense te help. Coetzee het altyd 110% gegee in al haar sake en baie suksesvolle sake afgehandel.

“Ek vind dit moeilik om heeltemal op te hou en hanteer steeds sake waarmee ek begin het,” het sy vanuit die Kaap gesê.

Sy gaan dus steeds as konsultant vir Delia Coetzee Prokureurs Inc werk en nou en dan Secunda toe kom. Sy gaan egter nie meer die besturende direkteur wees nie.

Haar jarelange kollega, Brian le Roux, het die leisels as die nuwe besturende direkteur oorgeneem.

Coetzee het in Bloemfontein grootgeword en eers aan die Universtieit van die Vrystaat studeer en later haar LLB-graad deur Unisa verwerf.

Haar loopbaan in die regte het afgeskop as staatsaanklaer in Pretoria.

Sy het na twee jaar vir Unisa gewerk en later vir ’n regsfirma in Pretoria voordat sy haarself op Secunda kom vestig het.

Coetzee geniet deesdae buitemuurse aktiwiteite in die Kaap waarvoor sy nie altyd tyd gekry het toe sy nog op Secunda gewoon het nie.


ALSO READ: The great return of Rayton’s Spikkels, and why she is no ordinary dog


Sy het nog altyd gedraf vir ontspanning en in die gimnasium geoefen, maar sy het onlangs vir die eerste keer by ’n marathonklub aangesluit, die Hangklip Atletiekklub.

Sy geniet dit deesdae ook om met ’n kajak te roei, fiets te ry, berg te klim, te lees en sy doen steeds baie opstelwerk.

Coetzee geniet dit om tyd met haar ses kleinkinders, wat in Johannesburg woon, maar gereeld vir hulle ouma in die Kaap gaan kuier, te bestee.

Van die hoogtepunte van haar loopbaan as prokureur was om haarself te kon vestig as die eerste vroue prokureur op Secunda en ook om die eerste vroue kommissaris van die hof vir klein eise te wees.

“Dit was vir my ’n besondere mylpaal om dit te kon bereik,” het Coetzee gesê.

“Die mense maak Secunda die lekker dorp wat dit is en dit was vir my net ’n voorreg en ’n vreugde om daar te kon woon en praktiseer.”



Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button