Delmas is een van Mpumalanga se semi-finaliste vir Dorp van die Jaar

Vir vanjaar se kompetisie moet Delmas sy eie unieke bekoring teen dié van Witrivier en Lydenburg verdedig.

Delmas het die groot eer toegekom om as een van Mpumalanga se finaliste in die Dorp van die Jaar-kompetisie benoem te word.

Mpumalanga, Limpopo en die Oos-Kaap se finaliste vir die Kwêla kykNET se kompetisie is op 23 April in rondte twee bekend gemaak.

Vir vanjaar se kompetisie moet Delmas sy eie unieke bekoring teen dié van Witrivier en Lydenburg verdedig.

Vir menige oud-Delmassers was die benoeming ‘n riem onder die hart. Dit is die dorp waar hulle gebore is, skool gegaan en getrou het, en sommige woon nou nog hier of het boerderye op familieplase voortsit.

Passievolle vrywilligers vanuit die Delmas Herleef-groep het, nadat Kroonstad verlede jaar as die wenner vir 2022 aangewys was, met ‘n kop vol planne by hulle gaan aanklop om meer uit te vind.


Op Delmas werk oud en jonk saam om van die dorp ’n beter plek te maak.

Die aanvanklike plan wás om vir die 2024-kompetisie in te skryf, maar Kroonstad se mense het die positiwiteit en passie van die handjievol hardwerkende Delmassers raakgesien en Delmas vir vanjaar se kompetisie genomineer.

Negatiewe kommentaar was daar oor die benoeming en baie klagtes oor slaggate, vervallende infrastruktuur, gebrek aan dienslewering en meer.

Dit het gou geblyk dat die kriteria net oor hoe ‘n dorp daaruit sien gaan nie, maar ook oor die uniekheid van ‘n dorp. Hier bied Delmas die uniekheid van sy mense wat saamstaan om van Delmas ‘n beter dorp te maak.

Delmas spog ook met die Schoeman Boerdery, verskeie megaboere, ‘n befaamde resiesbaan en valskermklub.

Op ‘n vraag aan Trudie Maré oor waarom sy, as inwoner van Delmas, inwoners so passievol aangemoedig het om vir Delmas te stem, was haar antwoord: “Definitief nie omdat ek self dink Delmas is die mooiste dorp in die land nie, nee, maar ék gaan nie trek nie, ek het hier groot geword. My ouers en my grootouers lê hier begrawe.


Lede van die vrywillige groep, Delmas Herleef, in vrolike luim.

“Ook ek, soos elke ander inwoner, moet daagliks deur slaggate ry, maar die verskil is die mense wat vir ons dorp omgee vul slaggate, tel rommel op, maak die begraafplaas skoon, hulle plant bome en plante, en gee skenkings vanuit hul eie sakke. Dit maak my trots op my dorp”.

Vir Doktor Martin van Rensburg, predikant van die Hervormde Kerk op Delmas, maar ook voorsitter van die vrywillige groep Delmas Herleef, was die benoeming ook ‘n baie groot eer.

Van Rensburg het genoem dat negatiewe kommentaar wel daar is, maar dat die passie en positiwiteit van die inwoners van die gemeenskap, asook talle besighede en ander instansies wat saamstaan, omgee en selfdoen hom na aan die hart lê.

“Ek glo ook dat die benoeming, ongeag wat die uitslae gaan wees, ons mense bymekaar bring en dat ons saam werk met die gesamentlike doel om van ons dorp ‘n beter plek te maak.”

Stemme vir Delmas het op 28 April gesluit en intussen hou die Delmassers asem op vir die uitslae vir die streeksuitslae wat eersdaags bekend gemaak sal word.




Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version