Secunda-egpaar soek van vooraf beenmurgskenker vir hul baba

Oorweeg dit om ’n beenmurgskenker te word.

Lydia van Deventer (nege maande) van Secunda wat met leukemie (bloedkanker) gediagnoseer is toe sy net vier maande oud was, se ouers hoop om vinnig ’n beenmurskenker vir haar te kry.

Klein Lydia sou op 2 Desember vir die prosedure gaan om ’n beenmurgoorplanting te kry en haar ouers was dankbaar dat dié skenker van Suid-Afrika is omdat dit die prosedure makliker en goedkoper sou maak.

Die skenker is ook ’n 10/10 pasmaat vir Lydia.

Dié skenker het egter onttrek en Lydia se mediese span soek nou weer van voor af.

“Dit was baie slegte nuus vir ons,” het Estelle van Deventer, Lydia se ma, gesê.

Mediese personeel het egter reeds ’n kortlys van pasmaats wat ’n 9/10 pasmaat vir Lydia is, maar volgens Estelle word selfs ’n 9/10 as ’n “mismatch” gesien. Dit kan egter steeds werk.

Daar is dus ’n moontlikheid dat Lydia teen Januarie die oorplanting sal kan kry.

Lydia kry nou ’n ligte vorm van chemo-behandeling sodat sy nie agteruit gaan nie.

“Die proses om weer ’n ander skenker te kies, is ’n ingewikkelde en komplekse besluit,” het Estelle gesê.

“Ek en Theo is ook getoets en wag vir ons uitslae.

“’n Ouer is nie gewoonlik ’n beter pasmaat as 5/10 nie, maar as ’n mens kyk na die ander vereistes kan dit dalk beter wees as ’n 9/10.

“Daar lê nou ’n groot besluit voor vir ons dokters.”

“Ons het nie baie tyd met Lydia nie, maar ons werk nou aan plan B en dit is om so gou as moontlik ’n ander skenker te kry.”

Klein Lydia van Deventer (nege maande) moet nou drigend ’n ander beenmurgskenker kry.

Estelle, Lydia en haar twee boeties, Louis (4) en Christoff (6) bly huidiglik by Estelle se ouers op Parys wat so 90 minute se ry vanaf die hospitaal is.

Sodoende kan Estelle meer tyd met haar twee seuntjies deurbring as wat sy sou kon as hulle in Secunda gebly het vir die tydperk wat Lydia chemo-behandeling moet ontvang.

Estelle wil mense bewus maak dat enige iemand beenmurg kan skenk en dit beteken nie die skenker moet ’n operasie ondergaan soos wat baie mense dalk dink nie.

Besoek die beenmurgregistrasie-webwerf by dkms-africa.org om te registreer om ’n skenker te word.

Omdat sy gesien het hoe belangrik dit is toe Lydia bloedoortappings in die hospitaal gekry het, het sy mense aangemoedig om gereeld bloed of plaatjies te gaan skenk.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version