Na al die beplanning, borge nader, bestellings plaas en wag vir produksie, is Laerskool Rayton se eerste bankies van herwinbare plastiek as deel van die Borg-’n-Bankie-projek, op 5 Desember afgelewer.
Die energie kon in die lug gevoel word soos die leerders uit klaskamers gestroom het om die bankies onder oë te kry.
Daar is groot bankies vir lekker sit en kuier, kleiner bankies vir die grondslagfase en ook praktiese asblikke.
Klein Tanika en Johanko Fourie, die eerste gr. 1-leerders wat op die nuwe bankies gesit het, het albei gedink dit is baie mooi,
Hulle het saamgestem dat die heldergroen bankies lekker gaan wees om op te sit en lees. Laerskool Rayton se gr.7-leerders roep jaarliks hul laerskooljare vaarwel met ’n blywende bydrae tot die skool.
“Vanjaar se gr.7s het die Borg-’n -Bankie-projek geloods om ’n blywende nalatenskap op die skoolterrein te laat,” het Tanya Fourie,’n ouer, vertel.
Die dorp se sakelui kon ook so hul ondernemings by die skool bemark. Volgens Fourie, was die terugvoering oorweldigend.
Individue is ook genader om die projek te ondersteun. Die Borg-’n-Bankie-projek word gedoen in samewerking met ’n maatskappy wat herwinbare plastiek vervaardig.
Die produkte is duursaam, weerbestand, eko-vriendelik en onderhoud-vry. Die hoof, Rudo Opperman, is so beïndruk met die projek, dat hy die projek gaan oophou vir toekomstige borge wat wil deel in die Borg-’n-Bankie-projek.