Local newsNewsSport

Standerton se Edelvalkers neem bestek op van seisoen

Edelvalkers is verteenwoordig by die nasionale kompetisie in Bloemfontein vanjaar en die A-span het algeheel eerste geëindig.

Die voorsitter van die Edelvalk-tak van die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging het by hul onlangse prysuitdeling die prestasies van die tak uitgelig.

Stoffel Bester het sake in oënskou geneem en plaaslike, nasionale en internasionale mededinging se welslae genoem.

Wat plaaslike byeenkomste betref, is intertakskiet-, pretskiet-, presidentskiet- en ghongskietbyeenkomste aangebied.

Die skietkoördineerder, Iwan Lues, het ook nuwe dissiplines bekendgestel. JC Schoeman, vorige voorsitter, het die windbuksskietaande by die Standerton Skouterrein van stapel gestuur.

“Dit bevorder nie net juniors se skietvernuf nie, maar slyp ook die vernuf van seniors,” het Bester gesê.

Edelvalkers is verteenwoordig by die nasionale kompetisie in Bloemfontein vanjaar en die A-span het algeheel eerste geëindig.

Dié Swartwildebeeste het uit Jako Steenkamp, Bester, Xander Bailey en Drian Podges bestaan.

Die Ribbokke, oftewel die C-span, het 13de geëindig en uit Carla Lues, Schoeman, Helen Ellis en Jacques Dalhouzie bestaan.

Die Blesbokke, oftewel die B-span, het die 17de plek behaal en uit Iwan Lues, Christo Bailey, Neil Gräbe en Jaco Booysen bestaan.

Internasionaal het Bester en Booysen vanjaar die wêreldkompetisie in Engeland bygewoon en uitsonderlike prestasies behaal.

Tydens die IGRF Championship GRSB 2022 het Bester ’n nuwe Phoenix-rekord opgestel nadat hy by 50m Precision GRSB eerste geëindig het.

Hy het ook die eerste plek behaal in die Sporting Rifle-afdeling, terwyl Booysen ook knap gevaar het teen die strawwe internasionale mededinging.

Booysen het Bester geklop in die Sporting Rifle Statics-afdeling en algeheel tweede geëindig.

Dié twee Edelvalkers het na Suid-Afrika teruggekeer met puntetellings van 2168.125 vir Bester en 2139.84 vir Booysen, wat hul onderskeidelik vyfde en 24ste geplaas het.


Related Articles

Back to top button