Local newsNews

Olie in rioolstelsel op Delmas bly ’n raaisel

Vir die munisipale mangat vol olie in die hoek van Delmas Crane Hire se perseel, blyk daar egter nog geen verduideliking of oplossing te wees nie.

Vir die eienaar van Delmas Crane Hire, Johan de Lange, was die rioolkrisis op die voorstoep van hul besigheid in Oudstraat nog altyd daar.

Streeknuus het sedert 2020 by verskeie geleenthede oor die riool wat vanuit ’n stormwatersloot in Oudstraat opstoot, berig.

Tydens Streeknuus se besoek aan die perseel in Oktober, het nog ’n rioolkopseer bygekom. Wat olie blyk te wees, is in die rioolstelsel ontdek. (Streeknuus, 21 Oktober).

Weens die onhigiëniese toestand waaronder sy werknemers moet werk, het De Lange intussen self begin slote grou om pype te vervang.

“Ek het eers vermoed dat die probleem dalk aan ons kant kan wees, dat die pype moontlik verouderd, geblok of stukkend is en daarom het ons begin om slote na die munisipale aansluiting te grou sodat die pype vervang kan word,” het De Lange gesê.


LEES OOK: Woman is raped after leaving the police station in eMbalenhle


Dit was dan ook juis tydens dié pypvervangingsprosesproses wat die olie in die munisipale mangat opgemerk is.

Tydens Streeknuus se laaste besoek aan Delmas Crane Hire se perseel, was die maatskappy reeds besig om die nuwe pype toe lê.

Van aansluit by die munisipale stelsel, was daar egter geen sprake nie.

“Ons kan nie weer toelaat dat riool en nou nog olie, ook in ons stelsel terugstoot en ons hele perseel besoedel nie.

“Die munisipale stelsel is nie in werkende toestand nie.”

Die maatskappy is daarom in die proses om ’n tenk in die grond te plaas en hul rioolpype is nie meer aan die munisipale lyn gekoppel nie.

“Die aanhoudende en harde reën van die afgelope tyd belemmer egter die tydskedule.”

Dié projek het De Lange reeds sowat R30 000 uit die sak gejaag.

’n Mobiele toilet moes vir die werkers aangeskaf word omdat daar tans geen werkende rioolstelsel op die perseel is nie.

“Die munisipaliteit het onderneem dat as ons die septiese stelsel op eie koste installeer, hulle dit op ’n gereelde basis sal kom leegpomp, dus terug na ’n septiese tenkstelsel soos van ouds.”

Vir die munisipale mangat vol olie in die hoek van Delmas Crane Hire se perseel, blyk daar egter nog geen verduideliking of oplossing te wees nie.

Volgens De Lange, het werkers van die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit (VKLM) kort nadat Streeknuus oor die probleem berig het, die perseel besoek.

“Die munisipaliteit het byna dadelik ons perseel kom besoek en die stormwatersloot, sowel as die mangat wat met olie gevul is, kom uitpomp.”


LEES OOK: ProjectUthando rescues Rosie the ‘monster dog’ from informal settlement near Bethal


VKLM het glo reeds drie keer die afgelope maand die olie uitgepomp.

“Ons het hulle (die munisipaliteit) egter nie vir die afgelope sowat twee weke gesien nie.”

Streeknuus het in Oktober navraag aan VKLM se munisipale bestuurder, Thabo Mashabela, gerig.

In reaksie op Streeknuus se navraag, het Mashabela laat weet dat dit die eerste keer was dat die probleem onder sy aandag gebring is.

Hy het onderneem om dit aan die tegniese direkteur deur te gee en het die versekering gegee dat hy die probleem in ’n ernstige lig beskou.

Teen druktyd was daar egter nog nie weer enige terugvoer van VKLM ontvang nie.

Die knaende vraag bly nou egter; waar kom die olie vandaan en waar gaan dit heen?

Streeknuus sal so gou moontlik sy lesers op hoogte hou oor die olie en riool in die stormwatersloot in die Oudstraat-omgewing wanneer kommentaar ontvang word.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button