Cullinan se Oaklaan is uiteindelik klaar

Ander paaie is ook byna voltooi.

Cullinan se inwoners is verlig oor die nuut-geteerde Oaklaan. Dit het glo meer as ’n jaar langer geneem as wat beplan is om die omgedolwe strate op die dorp te herteer.

Een van die redes vir die vertraging was glo weens ’n landwye tekort aan die primêre en noodsaaklike produk, Bitumen, ’n produk wat bekend staan vir sy waterdigtheid en kleef-eienskappe wat essensieel is vir die konstruksie van paaie.

“Dit was veronderstel om ’n 12 maande-projek, sonder om ontwrigtings by te tel, te wees,” het DA-raadslid JB Bekker, gesê.

“Maar buiten die tekort aan produkte wat benodig was om dit te voltooi, was daar ook sekere inwoners wat ingemeng het met die projek en dit is deels hoekom dit gestaak is,” het Bekker verduidelik.

“Ek het hand en tand baklei vir die projek om voort te gaan en het selfs 80 ander projekte vir dit stopgesit.”

Oaklaan, wat R10 miljoen gekos het om te voltooi, het sy derde laag teer in Oktober gerky en spog nou met nuwe randstene wat nie voorheen daar was nie, asook ’n opgegradeerde stormwater-dreineringstelsel.

“Die pad lyk baie beter noudat dit geteer is en die randstene lyk netjies,” het Lientjie Wessels, ’n inwoner van Cullinan gesê.

Marius Conradie, ook ’n inwoner van Cullinan, stem saam dat Oaklaan aansienlik beter lyk.

“’n Mens kan sien hulle is besig om nog bietjie afrondingswerk te doen, veral met die randstene en daar is ook nog nie spoedbultjies waar daar wel nog bordjies is om mense te waarsku.

“Ek dink net hulle moes in die verlede beter gekommunikeer het met die gemeenskap oor wat gebeur het en hoekom dit stilstaan sodat mense beter kon verstaan, want die algehele gevoel was dat niemand omgee oor die daaglikse padgebruikers en hoe die dorp vir besoekers lyk nie.”


LEES OOK: Hengelaars gaan groot by jaarlikse Baber- en Karpfees by Grootdraaidam


Ariska Schoombee, ’n toerisme-bevorderaar op Cullinan wat ook vir die Diamond Chamber of Commerce (DCC) werk, is dit eens dat die kommunikasie oor die stand van Oaklaan en ook die ander paaie, nie die beste was nie, maar stem saam dat sodra al die paaie weer geteer en voltooi is, Cullinan goed gaan lyk.

Sy het verder gesê die werk aan Oaklaan het nie regtig die sakeondernemings op die dorp geraak nie, maar daar was aansienlike negatiewe kommentaar van mense wat die dorp besoek het en ook van inwoners.

“Ongelukkig kla mense gewoonlik as iets fout gaan, maar dit is bitter skaars dat mense juig as iets goed gaan,” het Schoombee bygevoeg.

Dit word beaam deur nog inwoners op die dorp wat anoniem wil bly.

Hulle voel Cullinan en Rayton se inwoners word bevoordeel met dienslewering in vergelyking met ander dele van Tshwane, maar dat mense altyd net kla oor alles en dit is onnodig.

Ander paaie in die historiese dorpie wat tans aandag geniet, is Olienhoutstraat wat voltooi is en Rangeweg.

Verskeie inwoners het in Februarie ’n protesoptog gehou en ’n memorandum aan Bekker oorhandig waarin hulle gekla het dat die paaie toe reeds na agt maande nog nie voltooi is nie.


Exit mobile version