NewsSport

Elfjarige van Sundra verwerf nasionale kleure vir sportskiet

Die groot prestasie het gevolg nadat CW sy streek by SAJWV tydens die nasionale junior kampioenskap verteenwoordig het waar hy ’n kwalifiserende telling behaal het.

CW Grundlingh is slegs 11 jaar oud en ’n graad 5-leerder aan Sundra Laerskool, maar hy is reeds ’n nasionaal erkende junior sportskut.

CW het op Saterdag, 8 Oktober sy nasionale Protea-kleure in die junior sportskiet-kategorie vir die Gauteng Suidoos-streek deur die SA Jagters-en wildbewaringsvereniging (SAJWV) verwerf.

Die groot prestasie het gevolg nadat CW sy streek by SAJWV tydens die nasionale junior kampioenskap verteenwoordig het waar hy ’n kwalifiserende telling behaal het.

Volgens die SAJWV het hulle meer as 44 000 lede wat in 15 streke en 83 takke landwyd verteenwoordig word.

“Die voortgesette ontwikkeling van sportskietvaardighede is een van die vereniging se kernaktiwiteite waar vuurwapenveiligheid deurgaans voorkeur geniet. Vir hierdie doel het SAJWV sportskietoefeninge vir verskillende ouderdomskategorieë vanaf 0/9 tot 0/18 ontwikkel wat aan die juniors die geleentheid bied om vanaf takvlak tot op internasionale vlak deel te neem en gepaste erkenning te ontvang.

“Kwalifiserende skuts wat op takvlak aan die minimum vereistes voldoen, neem dan verder aan streekkompetisies deel. Skuts wat op streekvlak aan die kwalifiserende kriteria voldoen, word dan genooi om aan die Suid-Afrikaanse Jagters se Nasionale Junior Sportskietkampioenskap deel te neem. Hier ding al die beste skuts in verskillende klasse mee,” het Nic Roets SAJWV se bestuurder vir opleiding en sportskiet, in ’n mediaverklaring gesê.

Volgens CW se ma, Patricia Grundlingh, het CW reeds van ’n jong ouderdom talent gewys.

“Hy het reeds op die ouderdom van ses jaar begin skiet. Sy pa, ook CW, het altyd vir CW (jnr) by die jagtery betrek.

“Hy was altyd aan sy pa se sy en vandaar het die passie vir sportskiet ontstaan. CW (jnr) het reeds op sewejarige ouderdom sy eerste vlakvark geskiet,” het ma Patricia laat hoor.

“CW het boonop in ’n kwessie van twee tot drie maande, sy streekkleure, sowel as sy Protea-kleure verwerf. Ons as gesin is báie trots op hom.” Hy maak van sy pa se .22 jaggeweer gebruik tydens kompetisies.

Die Grundlingh-gesin is boonop almal bedrewe agter ’n jaggeweer en beoefen die sport as ’n gesin saam.

“Pa CW en CW (jnr) het ons hele gesin aangesteek met die jag en jagskiet en so het die sportskiet-gogga gebyt. In so ’n mate dat ek en sy ouer sussie, Monica (13) ook aanstaande maand formeel deel word van SA Jagters,” het Patricia bygevoeg.

“Kleinsus, Charmoné (8) beplan glo om ook in Januarie te begin deelneem.

Die gesin van vyf geniet hul stokperdjie terdeë en doen dit as gesin saam.

“Dit is ons passie en dis wonderlik om dit as gesin saam te kan doen,” het Patricia afgesluit.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button