Local newsNews

Inwoner van Malita op Delmas vier 96 jaar en plant steeds blomme

“Ek weet nie vir wat maak hulle so ’n ophef nie. Ek moes tot naels laat verf, my lippe word weer en weer ingekleur. Dit is tog net nog ’n verjaarsdag.”

Margerie Cillié is die afgelope 32 jaar ’n inwoner van die Malita Aftreeoord. Dit maak haar nie net die oudste nie, maar ook die inwoner wat die langste by dié aftreeoord op Delmas woon.

Dit kon dus nie anders as dat daar makietie gehou moes word toe ‘tannie Marg’ haar 96ste verjaarsdag op Maandag, 24 Oktober gevier het nie.

Dit was ’n geskarrel om alles vir ‘ouma’ se verjaarsdag gereed te kry en terwyl kolwyntjies, vleispasteitjies en melktert hul staanplek op die keurig gedekte tafels gekry het, het ’n statige klein vroutjie geduldig eenkant gewag.

“Ek weet nie vir wat maak hulle so ’n ophef nie. Ek moes tot naels laat verf, my lippe word weer en weer ingekleur.

Dit is tog net nog ’n verjaardag,” het Cillié Streeknuus meegedeel. Volgens Cillié is sy al vir die afgelope 32 jaar ’n inwoner van Malita.

“Ek is baie gelukkig hier, maar verlang tog soms terug na die ou dae. Hier was sommer net ’n draadheining om die plek gespan.

“Dit was die goeie ou dae. Alles het egter verander en die kriminele het dit genoodsaak dat ons na ons veiligheid moes omsien.

“Ons het pannekoek en vetkoeke gebak vir ’n vale om geld in te samel om die palissade te laat opsit.”

Cillié is op 24 Oktober 1926 in die Vrystaatse dorpie Lindley gebore. Haar oorlede man was ’n speurder in die destydse polisiediens.

“Hy was 15 jaar ouer as ek, maar hy het baie goed vir my gesorg. Ek het nie lank na sy dood my intrek by Malita geneem. Sy pensioen sorg goed vir my en ek het geen enkele dag enige tekort nie.”

Op ’n vraag aan Cillié of ons haar honderdste verjaarsdag ook gaan vier, het sy gesê: “Ag nee man, ek wil nie 100 word nie.”

Sommer so tussenin, haak sy af: “Ek kan wel nie meer bestuur nie, maar ek kan ’n koei melk.”

‘Tannie Marg’ is veral in Malita-kringe vir haar liefde vir tuinmaak en ’n mooi blom bekend.

Sy glo vas dat dit haar liefde vir die buitelug en haar hande in die grond is wat haar so gesond hou.

“Ek het altyd in die winter gebrei, maar die ou hande wil nie eintlik meer die fyn breiwerk doen nie, maar blomme plant, die kan ek nog.

“Met my man se werk, het ons heelwat verhuis. Hy het altyd gevra waarom ek so plant en tuinmaak. Ek was net klaar mooigemaak, dan was die huis verkoop of moes ons verhuis.

“Ag man, jy kan mos maar ’n lelike huis hê, maar ’n mooi tuin maak álles mooier.”

Dogter Hettie en skoonseun, Bennie Greyling van Eloff het die verrigtinge bygewoon. Ook haar kleinseun, André Cillié, het al die pad van Pretoria gery om vir ouma te kom geluk sê.

Hoewel Cillié se gehoor nie meer goed is nie, was ’n selfoon styf teen haar oor gedruk terwyl die liedjie ’dankie ouma’ spesiaal vir haar gespeel is.

Dit is egter nie die eerste keer dat Streeknuus vir die vurige en trotse vroutjie by Malita gaan kuier het nie.

Gedurende Oktober 2020, kort voor haar 95ste verjaardag, was Streeknuus ook daar.

Dit was egter ’n dag waarop Streeknuus Cillié in ander omstandighede gesien het. Buite in haar pragtuintjie het ’n bloeiende en erg beseerde vrou gesit waar sy op die ambulans gewag het.

Die perseel het van polisielede gewemel. (Streeknuus, 16 Oktober 2020) Sy was toe die slagoffer van ’n roof en aanval in haar huisie by Malita.

Sy is goedsmoeds oorrompel deur twee booswigte wat hulle glo voorgedoen het as mense wat gratis brille aan bejaardes sou uitdeel.

Cillié, wat vlot Zulu kan praat, het vir die twee oopgemaak, koffie gemaak en toe het die hel begin.

Sy is aangerand, met insekdoder gespuit en vasgebind in haar badkamer gelaat. Haar huisie was omgekeer.

Cillié is hierna in haar huis toegesluit nadat die aanvallers boonop met haar sleutels gevlug het. ’n Buurvrou het haar benoude gille gehoor en hulp ontbied.

Dit was toe, maar twee jaar later, het Cillié haar verjaardag gevier met haar vriende en familie om haar.

“Die Here se genade hou my staande en ek glo my tuinwerk in die buitelug, geen rook of drink nie, sorg vir my hoë jare.”


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button