Vragmotor bars deur muur op Delmas en mis kleuter net-net

“Groot was die skok toe ek in ’n trokkie op ons huis se stoep vas hardloop.”

Instink het Reinhardt Fisher van Delmas gedryf om sy dogtertjie net betyds uit die pad van ’n weghol-vragmotor te stamp. Was dit ’n sekonde te laat, dan was klein Reinescke (2) verlede Woensdag waarskynlik dood.

’n Klein vragmotor van Rossgro het op 19 Oktober omstreeks 18:00 deur die muur van die Lebombo-kompleks regs langs die Delmas polisiestasie se mure gebars.

Volgens Reinhardt en Ruani Fisher, het hulle dié pas tuisgekom na hulle slap tjips gaan koop het.

“Ons dogtertjie, Reinescke, het gevra om net nog so bietjie buite op die swaai te speel. Reinhardt het haar geswaai en ek het intussen solank Reinescke se slap tjippies koud geblaas,” het Ruani vertel.

“Ek het skielik net vir Reinhardt hoor gil, ‘nee, nee, nee’ saam met ’n paar gekruide woorde,” het sy gesê.

Reinhardt het skreeuende remme gehoor en die volgende oomblik het die vragmotor deur die muur gebars.

“Ek het instinktief my lyf oor Reinescke gegooi en haar met swaai en al uit die pad van die vragmotor gedruk,” het hy vertel.

Volgens Ruani was daar ’n geweldige slag en toe net stof.

“Ek het geen idee gehad wat gebeur het nie, ek kon niks sien nie en my enigste denke was om te weet of my man en kind veilig is.”

Sy het sy haar pad deur die stof na buite gevind.

“Groot was die skok toe ek in ’n trokkie op ons huis se stoep vas hardloop.”

Buite was dit chaos. Die bestuurder van die vragmotor en sy passasier het eers van die toneel af weggehardloop, maar het glo weer teruggekeer.

Hy het ligte kopbeserings opgedoen en is per ambulans na ’n hospitaal geneem. Die passasier was ongedeerd.

Op ’n sosiale mediagroep het een persoon laat weet dat dieselfde vragmotor hulle byna van die pad af gedruk het.

“Die vragmotor het bykans 100km/h in die 60km-sone op die Eloff / Delmas-pad gery. Dit het op ons afgepyl, en die noodligte was aan.

“Hy het, sonder om te stop, oor die stop by Q4 Fuel gery. Ons het eers geglo die vragmotor is gekaap,” het die persoon laat hoor.


ALSO READ: Social workers in eMbalenhle warn parents not to use children


Lede van die plaaslike AfriForum Valke Buurtwag het ook die vragmotor agterna gesit, maar later laat vaar.
Streeknuus het met Rossgro op Eloff gepraat.

“Dit was ’n ongeluk. ’n Saak van nalatigheid word teen die bestuurder van die vragmotor gebring,” het Johnny Brynard, operasionele bestuurder van Rossgro, gesê.

“Ons versekering is in kontak met die eienaar van die huis en die saak geniet aandag. Ons vra om verskoning vir die ongerief wat die ongeluk aan al die betrokke partye besorg het.”

Die Fishers het kort voor druktyd aan Streeknuus gesê dat hulle die aand van die ongeluk by Reinhardt se ouers oornag het.

“Die buitemuur van ons erf het plat gelê, ’n gedeelte van die huis se stoep het op die vragmotor gerus en alles was toe onder stof. Die toneel was glad nie veilig nie,” het Ruani gesê.


ALSO READ: Standerton Crime Intelligence Unit arrest three for drug possession


Die volgende oggend is stutte geplaas om die stoep se dak te ondersteun en die vragmotor is verwyder.

Die buitemuur is ook intussen herstel, maar die skade aan die Fishers se woning is ’n bitterseer herinnering aan wat kon gebeur het. Reinhardt sou aanvanklik nie tuis gewees het nie omdat hy soms weg van die huis af werk.

“Ek glo dit was so bestem dat hy daardie spesifieke aand tuis moes wees. Dit is ondenkbaar oor wat sou of kon gebeur het as hy nie daar was om ons kleinding te beskerm nie,” het Ruani laat hoor.

“Ons wil die gemeenskap bedank vir hul blitsige reaksie en hulp. Daar was soveel mense en hulp, ons waardeer dit baie.”

“Reinescke lei beslis ’n bietjie aan skok. Sy is skielik bangerig en loop ’n draai om ver van mure af te bly. Andersins gaan dit goed met ons,” het Ruani gesê.

Die kleinding kan op 27 November haar derde verjaarsdag saam met pappa, mamma en familie vier.

“Ons is ongelooflik dankbaar daarvoor.”


Exit mobile version