Local newsNews

Rou riool maak Delmas-sakelui se lewe ondraaglik

“Na vele en herhalende oproepe en verwysingsnommers kom hulle wel uit, pomp net die afvoersloot in die straat leeg en ry weer. Daar word absoluut niks aan die probleem gedoen nie en dit duur nou al vir jare.”

Die rioolprobleem by Delmas Crane Hire in Oudstraat op Delmas kom nie van vandag af nie. Om alles erger te maak, blyk daar ook nou oliebesoedeling in die stelsel te wees.

Reeds gedurende 2020 met Streeknuus se eerste besoek aan die maatskappy, was dit duidelik dat die rioolafvalstelsel in die gebied nie in werkende toestand is nie.

Rou riooluitvloeisel het vanuit ’n stormwatersloot geborrel en padlangs gevloei. Delmas Crane Hire het aanvanklik hul besigheid vanaf ’n ander perseel in dieselfde straat bedryf.

Streeknuus het reeds verskeie besoeke aan die persele gebring en oor die riooluitvloeisel wat groot probleme veroorsaak, soos onder andere die onwelriekende omstandighede waaronder werknemers hul daaglikse take moes uitvoer, onbruikbare toilette en kombuis op die perseel, berig. (Streeknuus, Februarie 2020 en November 2020)

Die bestuurder, Johan de Lange, het op daardie stadium reeds aangedui dat Delmas Crane Hire ’n eiendom, geleë in dieselfde straat, aangekoop het. Die registrasie van die eiendom is egter weens die Covid-19-pandemie vertraag.

Dié perseel is egter reg agter die ‘rioolpoel’ in Oudstraat geleë en tydens die reënseisoen, het die rioolvuil toe reeds die perseel vanuit Oudstraat binnegestroom.

Die maatskappy het intussen na hul nuwe perseel verhuis en het besluit om self die probleem aan te pak omdat die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit (VKLM) glo niks gedoen het om die probleem op te los nie.

“Ons het aanvanklik gedink dat die probleem moontlik op ons nuwe perseel lê en self begin om pype oop te grou met die doel om dit te vervang,” het Hannes Greyling, eienaar van Delmas Crane Hire, gesê.

“Ons het reeds duisende rande bestee om die ou afvoerstelsel op ons perseel oop te grou, nuwe pype aan te koop en so meer.

Ons het egter gou besef dat die blokkasie of wat ook al die probleem is, nie op ons perseel is nie, maar op die hooflyn. Tans kan ons niks verder doen nie.”

Soos berig in Streeknuus, November 2020 was daar voorheen ’n rioolpompstasie agter die geboue in Oudstraat, maar daarvan het niks oorgebly nie. Die maatskappy het ook reeds verskeie oproepe na VKLM gemaak.

“Na vele en herhalende oproepe en verwysingsnommers kom hulle wel uit, pomp net die afvoersloot in die straat leeg en ry weer. Daar word absoluut niks aan die probleem gedoen nie en dit duur nou al vir etlike jare voort.”

“Die reënseisoen is boonop vinnig op pad. Dan begin die volgende probleem. Die verstopte stormwatersloot gevul met rioolvuil in, stoot dan in ons perseel op.

“Ons het dit reeds oor etlike jare waargeneem nog voordat ons na dié perseel verhuis het. Dit is dus rou riool waardeur voertuie moet ry, werknemers en kliënte moet stap, dit is behalwe die feit dat daar erens in die stelsel ’n massiewe blokkasie is wat, selfs nou op die nuwe perseel, toilette en wasgeriewe vir ons onbruikbaar maak.

“Ons moes intussen ’n mobiele toilet kry vir ons personeel se gebruik. Dit opsigself is nie volhoubaar nie. Die hele septiese spul hou ’n gesondheidsrisiko vir ons werknemers in.

“Ons wil graag nog huisies inrig vir personeel om op die perseel te kan aanbly, maar omdat ons geen werkende rioolstelsel het nie, is dit buite die kwessie.”

Tydens Streeknuus se besoek aan die perseel op Maandag, 17 Oktober, was dit baie gou duidelik dat daar ook ’n nuwe probleem ontstaan het. Daar blyk nou boonop ook pikswart olie gestort te wees.

Die riool wat in Delmas Crane Hire se vars gegroude slote terugstoot sowel as die munisipale mangat, dra duidelike tekens van oliestorting.

“Daar was Vrydag reeds so ’n swart skynsel, maar ons het dit maar aan riooluitvloeisel toegeskryf. Ek het geen idee waar die swart olie nou vandaan kom nie.

“Dit moes gedurende die naweek gebeur het. Vermoedelik is daar ’n nabygeleë maatskappy wat gebruikte olie direk in die stelsel stort.”

“Dit is nie aanvaarbaar nie, dit gaan mos alle ekostelsel, visse, diere en plante stroomaf doodmaak.”

“Die ergste van alles is dat al die riool en nou ook nog die ou gebruikte olie te einde laaste in die Bronkhorstspruit, die rivier en in die dam beland.”

Streeknuus het’n skrywe aan die munisipale bestuurder, Thabo Mashabela gerig. “Dit is die heel eerste keer wat ek van hierdie klagte kennis neem. Ek neem hierdie saak werklik ernstig op en sal dit ook sodoende hanteer,” het Mashabela laat hoor.

Hy het verder onderneem om dit onmiddellik met die uivoerende direkteur van die tegniese dienste op te neem.

Lees meer oor hierdie voortslepende rioolkrisis in Oudstraat in die volgende uitgawe van Streeknuus.


Related Articles

Back to top button