Botsing is toe al die tyd ‘n transito-rooftog by Bronkhorstspruit

Mense het van Riamar Park oor die N4-snelweg gehardloop om van die geld wat weens die ontploffing rondgestrooi is, op te raap.

“Jissie, ek bewe nou nog,” het ‘n geskokte Sonja Smith gesê ná sy Maandagmiddag deur ‘n “see van koeëls” omsingel was.

Sy en haar man John het hul laat middag-tee op die stoep van hul huis op Onverwacht geniet, toe hulle skielik ‘n slag gehoor het en toe rook in die lug gesien het.

Hulle gedink dit is ‘n botsing en hul onmiddellike instink was om die brandblussers te gryp, in die kar te spring en na die toneel te jaag.

“Netnou is daar iemand wat in ‘n brandende motor vasgevang is en hulp nodig het,” het Smith Dinsdag herroep.

Net buite hul plaashek het koeëls in hul rigting gereën. Die Smith-egpaar het toe besef dit wat hulle as ‘n botsing aangesien het, is eintlik ‘n transito-roof in aanvang.

“Skote het in alle rigtings geklap en ons het dadelik die hasepad gevat,” het Smith vertel.

By die huis het hulle die polisie geskakel. Dié was toe al bewus van die voorval.

Smith is dankbaar dat sy en John niks oorgekom het nie, anders as ‘n bemanningslid van die G4S-geldwa wat ernstig in die rooftog beseer is.


LEES OOK: Billing mistake of Lekwa runs into thousands


Volgens ‘n betroubare bron, is die geldwa met twee lede omstreeks 18:00 opdie R568-pad tussen die N4-snelweg en die R25 aangeval. ‘n Silwer-grys Mercedes E240 het direk van voor met die geldwa gebots.

“Die G4S-geldwa het gerol en weer op sy wiele geland, en is toe van voor geskiet en van agter gebom met die bestuurder en bamanningslid steeds in die voertuig,” het die bron, wat anoniem wil bly, gesê.

Volgens dié bron, het die bestuurder van die Mercedes se been in die wrak vasgesit en is hy glo deur van die ander rowers geskiet. Hulle wou na bewering nie hul makker lewend agtergelaat het nie.

Die man is egter nie dood nie en is later uit die motor gehaal en na ‘n hospitaal geneem. Die beseerde G4S-bemanningslid is per helikopter na die hospitaal vervoer.


LEES OOK: Sanco flexes its muscles about water problems in Standerton


Donavan Fernandez, AfriForum se buurtwagvoorsitter, het bevestig dat vier voertuie by die rooftog betrokke was, naamlik die Mercedes Benz, ‘n wit Ford Everest, ‘n BMW X5 en nog ‘n BMW waarvan die model onbekend is.

Aanvanklik was die toneel gevaarlik en ontoegangklik vir EMS, veiligheidsmaatskappye en selfs die polisie weens die heen en weer skietery wat voorgeduur het en ook moontlik ongeaktiveerde springstof op die toneel.

Volgens ooggetuies, het die rowers koeëlvaste baadjies aangehad en was hulle met groot kaliber-gewere gewapen.

Tydens die voorval het owerhede glo gesukkel om die publiek van die toneel af weg te hou.

Mense het glo van Riamar Park, Bronkhorstspruit, oor die N4 gehardloop om hulle ‘deel’ van die geld te kry. ʼn Onbekende hoeveelheid geld is gebuit.


Wat oorgebly het van die geldwa ná die voorval.
Dié Mercedes Benz is gebruik om in die geldwa vas te ry.
Die G4S-bemanningslid wat ernstig beseer is, is per helikopter na die hospitaal geneem.
Wat oorgebly het van die geldwa ná die voorval.
Dié Mercedes Benz is gebruik om in die geldwa vas te ry.
Wat oorgebly het van die geldwa ná die voorval.
Wat oorgebly het van die geldwa ná die voorval.
Exit mobile version