Local newsNewsStreeknuus

Sharon-Lee Stander van Bronkhorstspruit baklei voort

Sy het ’n toegeruste huis, maar weens probleme met haar ouers se boedel, kan dié jong vrou nie daar woon nie.

Sharon-Lee Stander, ‘n mode-ontwerper van Bronkhorstspruit wat vir lank in die hospitaal om haar lewe geveg het, is nou tuis maar is nog baie siek.

Sedert Streeknuus se laaste berig in Mei, het baie dinge skeefgeloop, het haar tannie, Anteonet van der Walt, vertel.

“Sy is wel tans tuis, maar is steeds bedlêend en hoewel sy ʼn rystoel het, is dit moeilik om haar by die trappe in ons huis op en af te kry,” het Van der Walt verduidelik.

Stander is destyds met drie verskillende siektes gediagnoseer wat haar die afgelope 13 jaar aan ‘n bed gekluister hou en haar ook gereeld in die hospitaal laat opeindig.

Nie net kry sy epileptiese aanvalle nie, sy het ook sistemiese lupus en pseudotumor cerebri wat veroorsaak dat sy geweldige swelling op die brein kry.

Stander was vir ‘n geruime tyd in die Garangkua Hospitaal en is op 6 Julie ontslaan.

Sy het in Augustus ‘n afspraak met die urologie-afdeling gehad om die stent in haar linkerbeen te verwyder.

Die familie het hierna geen verwysing gekry na enige kliniek wat na die wond kon omsien nie.

Sharon-Lee Stander soos sy in Julie gelyk het.

Stander is ook net ‘n maand se medikasie voorgeskryf wat nie die pynmedisyne wat sy wel nodig het, ingesluit het nie.

“Sharon-Lee kort orale morfien, want haar liggaam sukkel om enigsins pille te absorbeer,” het Van der Walt gesê.

“Daar is ook tans geen morfien-stroop landwyd beskikbaar nie wat ‘n krisis veroorsaak.”

Nog ‘n struikelblok, volgens Van der Walt, is Bronkhorstspruit Hospitaal wat ‘n vlak 1-hospitaal is.

Dit beteken dat net sekere medikasie daar beskikbaar is.

“Dit is is nie soos Steve Biko wat ‘n vlak 3 is waar ‘n mens al die nodige medikasie wat Sharon-Lee nodig het, kan bekom nie.

“Om by Steve Biko uit te kom, verg groot beplanning, om nie eers te noem van brandstof nie,” het Van der Walt gesê.

“My ma help wel waar sy kan as ek moet inkopies doen, maar sy is self 82 jaar oud en kan net soveel doen.”

Nog ‘n hindernis is dat Sharon-Lee se ouers oorlede is en hul boedel verkeerdelik geregistreer is.

Sharon-Lee Stander in Augustus.

Van der Walt is aangewys as die eksekuteer in plaas van haar moeder, Rina van der Walt, wat saam met Sharon-Lee se oupa, Koos Stander, die boedel moes hanteer.

Tans is nuwe prokureurs besig om na dit te kyk en sal dit hopelik kan regstel.

Weens die fout met die boedel, kan Stander nie haar toegeruste huis betree nie. Daar is nog nie ‘n aandeelhouer nie wat beteken daar is geen magtiging dat sy in haar eie huis mag woon nie.

“Sharon-Lee se huis is fantasties ingerig met ʼn elektriese bed wat van bo en van onder af kan oplig.

“Sy kan maklik op en af van die bed klim en in en uit haar rolstoel kom wat haar die vermoë gee om meer selfstandig te kan rondbeweeg,” het Van der Walt vertel.

“Finansies is nou ons grootste probleem,” het Van der Walt gebieg.

“Ons kort finansiële hulp met doeke, voedingswaardige skommels, medikasie en doktersbesoeke, asook geld vir brandstof om by die geskikte mediese personeel uit te kom, en wi-fi sodat ek hopelik ‘n bly-tuis-werkie kan doen.”

Volgens Van der Walt sal ‘n dokter of verpleegkundige wat met tuisbesoeke kan help, ook ‘n lewensredder wees. Sy het persoonlike opleiding in bed-was en stoma-versorging nodig.

Enige iemand wat ʼn helpende hand kan uitryk of enige bydrae kan maak, kan vir Anteonet skakel by 065 622 6031.

Sharon-Lee Stander se hare het teen 18 Augustus bykans heeltemal uitgeval.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button